Wag geskiet ná hy motordiewe buite Affies agternasit  

(Foto: Verskaf)

ʼn Veiligheidswag is gewond nadat hy diewe se planne om ʼn voertuig te steel gefnuik het terwyl ʼn sportbyeenkoms by Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria plaasgevind het.

Die veiligheidswag is Saterdag omstreeks 12:50 buite Affies se skoolterrein gewond nadat hy op die motordiewe afgekom het wat besig was om ʼn voertuig in Lynnwoodweg te steel.

Die veiligheidswag van Interactive Security, een van die skool se diensverskaffers, het die voertuigdiewe agterna gesit toe hulle wou wegjaag. “Hy is gewond toe hulle op hom losgebrand het en hy het beheer oor sy voertuig verloor,” het die skool in ʼn verklaring gesê.

Tobias Lubbe, die skool se logistieke bestuurder wat tydens die interskole teen Paarl Gimnasium aan diens was en eerste op die toneel was, het paramedici van Sportmed, nog ʼn diensverskaffer wat reeds vir die sportdag op die terrein was, ontbied.

Braam Kruger, van Sportmed, het die veiligheidswag gestabiliseer en na die skoolterrein geneem, waarna ʼn helikopter van Netcare911 hom na Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg vir noodbehandeling vervoer het.

“Die veiligheidswag se naam word op versoek van Interactive Security vertroulik gehou. Hy is in ʼn stabiele toestand in die hoësorgeenheid. Die voertuig is nie gesteel nie, maar die beweerde voertuigdiewe het weggekom. Interactive Security was deurlopend in kontak met die skool. Die polisie ondersoek die voorval.”

Volgens die skool was geen ouer, skolier, ondersteuner of besoeker aan Affies in gevaar tydens die voorval wat buite die skoolterrein plaasgevind het nie.

“Affies is deeglik bewus van die verhoogde veiligheidsrisiko’s tydens groot sportbyeenkomste. Juis om hierdie rede reël die skool addisionele wagte wat te voet, te perd en per motor binne en buite die skoolterrein patrolleer. Van hierdie wagte is ook gewapen.”

Afrikaanse Hoër Seunskool, Afrikaanse Hoër Meisieskool, Pretoria High School for Girls en die Blou Bulle Rugby Maatskappy het reeds sedert 2021 die Loftus Sekuriteitsinisiatief, ʼn veiligheids- en sekuriteitsforum, gestig wat bykomende wagte te perd en per motor ontplooi om die omgewing en sy mense elke dag te beveilig.

“Die veiligheid van Affies se gemeenskap en omgewing is ʼn groot prioriteit vir die skoolbestuur en die beheerliggaam. Affies sal dringend verdere veiligheidsmaatreëls in samewerking met die Loftus Sekuriteitsinisiatief ondersoek.”

Die beheerliggaam het Maandag ʼn geskeduleerde vergadering waar die voorval en moontlike oplossings verder bespreek sal word.

“Ons dra die veiligheidswag en sy gesin in ons gebede op en vertrou dat hy volkome sal herstel. Affies is baie dankbaar vir die vinnige reaksie van ons eie personeel, die mediese personeel en die veiligheidsmaatskappy. Die veiligheidswag en personeel is die helde in hierdie storie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sêmanet ·

Die wag moet gou beter word. Hy het goeie werk gedoen, net jammer hy het seergekry.

Danie ·

Was die wag dan alleen op diens.Nie baie veilig.Misdaad buite beheer.

Stephen ·

Simpatie met die persoon en sy gesin. Die polisie skitter in hulle afwesigheid.

Toergids ·

Wel gedaan Interactive Sekuriteit, ek hoop die offisier sterk gou aan. Dan ook ‘n besonderse woord van dank aan Sportmed met hul flink optrede om die pasient te help.

melaney ·

Ons sal een van die dae ‘n wag moet huur wanneer ons net gaan brood koop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.