Wag hou kop tydens gepoogde transitorooftog

Die transitovoertuig wat geteiken is. Foto: ANA

Veiligheidswagte in die Oos-Kaap kon Maandagaand daarin slaag om ʼn transitorooftog te fnuik ten spyte daarvan dat een van die bande van hul geldwa tydens die gepoogde rooftog stukkend geskiet is.

Kapt. Andre Beetge, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het omstreeks 20:00 naby Nanaga gebeur terwyl die transitovoertuig van Grahamstad na Port Elizabeth op pad was.

“ʼn Silwer VW Polo het probeer om die transitovoertuig van voor af te dwing om stadiger te ry, terwyl ʼn silwer Nissan NP300-bakkie met ongeveer nege gewapende verdagtes van agter en van die kant op die transitovoertuig losgebrand het,” het Beetge gesê.

“Toe die bakkie naby die voertuig kom, het die bestuurder van die geldwa teen die bakkie gestamp. Die bestuurder van die bakkie het beheer oor die voertuig verloor en die bakkie het die pad verlaat.” Volgens Beetge is dit onbekend of die insittendes in die bakkie van daar af te voet gevlug het of deur ʼn ander voertuig opgelaai is.

Ondanks die feit dat een van die geldwa se voorste bande stukkend geskiet is, het die bestuurder daarin geslaag om beheer oor die voertuig te behou en tot by die Kinkelbos-polisiestasie te ry.

Die Nissan-bakkie wat deur die aanvallers gebruik is, is later deur die polisie langs die pad gevind en daar is op die voertuig beslag gelê. Volgens Beetge sal ʼn forensiese en ballistiese ondersoek gedoen word.

Geen van die veiligheidswagte is beseer nie en die rowers kon nie daarin slaag om enige kontant te buit nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Theresa ·

Wonder wie het n lys van waar en wanneer hierdie mense hul werk gaan doen? Kan tog nie duimsuig geluk wees nie.

willie ·

Hierdie G4S voertuie is Mickey Mouse voertuie, vergelyk hulle maar met SBV voertuie dan sal jy verstaan waarom die grootste persentasie transitorooftogte op hierdie niedoelgeskikte voetuie plaasvind!

GM ·

Gee vir daai wagte ‘n verhoging! Hulle is nog van die betroubare soort.

Lize ·

Ek hoop die bestuurder van dié G4S voertuig kry ‘n groot verhoging. Dit kon só maklik verkeerd gegaan het. Well done!!!!

christa ·

baie slim van die geldwa bestuurder. Hulle moet dit meermale doen sodat die booswigte hulle ali kan sien. Die bestuurder kort ‘n bonus. Hoekom ry hulle so laat op die SA paaie wat so gevaarlik is.

LouE ·

Dis nou ‘n strategie – hulle skiet die bande stukkend. Maak nou ‘n plan dat die voertuig met pap bande kan ry.

Deon ·

Goeie tyd. Sou verwag Veiligheidswag Maatskappye sou beter bande op die voertuie plaas om te verseker dat wagte kan aanhou ry as bande uitgeskiet word. Daar is niks oor nie. Hulle was gelukkig om weg te kom.

Liberaal ·

Ek sien die howe en polisie is nie hard op hierdie honger misdadigers wat met blink spogmotors op geldwaens toesak nie. Misdadigers moet mos gekoester word deur liberale waardes, so hoekom sal hulle ophou om toe te slaan? Liberale waardes bepaal ook dat die lewens van wagte en die publiek zero werd is.

Dries ·

Wat ek nie kan verstaan nie is as die mense geld vervoer dan gaan hulle aangeval word, maar hoekom doen hulle genoeg voorsorg nie.

Nettie ·

In die – kom ons sê afgelope 2 maande – het “CIT”-rooftog insidente net al hoe meer toegeneem. Ek dink dit is ‘n kwessie van òf ‘n “rogue unit/units” met verskeie vertakkings wat op verskeie plekke toeslaan óf dit is ‘n kwessie van misdadigers wat dit op die nuus sien en nadoen.

My vrae, wat ek bitterlik graag beantwoord wil hê, is: waar kry hulle die semi- en outomatiese vuurwapens waarmee hulle so wild skiet? Hoe weet hulle watter roetes word deur watter “CIT”- of sekuriteitsmaatskappye bedien en waar kry hulle die plof- of springstof waarmee hulle die kluise binne-in die voertuie opblaas?

Durf ek raai dat dit onvernietigde voormalige ANC-wapenopslagplekke, dalk die SANW of volksvreemdelinge uit Noorder-Afrika is wat die misdadigers hiervan voorsien??? Dis mos lekker om te bewe hier in “The New Azania”, oftewel die voormalige Republiek van Suid-Afrika!

Wilma ·

Knap gedaan
Verhoging vir die menere. Jul soort sekerlik dun gesaai. Dankie Jesus Dat U hul veilig gehou het

willie ·

Jy kry paploop vellings/bande dit moet net gepas word, maar indien jy hierdie G4S voertuie se spesifikasie gaan vergelyk met SBV voertuie sin gaan jy vind dit is bietjie lig in die broek na my mening!

Marinda ·

En toe kom betaal nie vir die rowers nie. Hahahaha. Mooi man. Bly alles het goed uit gewerk vir die wagte.

christa ·

stem! hoekom nie koeelbestande skerms nie vir die bande kry nie. Hoekom ry hulle nie tussen 8uur en 17h hul rye nie. Het die manne nie ‘n nood knoppie om hulle met die naaste polisie in verbinding te bring nie? Jou lewe is nie eers sonder geld in voertuig veilig nie, wat nog te se as jy spesifiek geld vervoer. as die banke weet iemand gaan in sekere rigting geld Vervoer, hoekom nie polisie uitstuur om op sekere punte stelling in te neem nie, kamtig met padblokade of so iets.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.