Wag in struweling met luiperd beseer

Argieffoto van ‘n luiperd (Foto: SANParke)

’n Veiligheidswag het verbete baklei en wonderbaarlik oorleef toe ’n volwasse luiperd hom Sondagoggend op ’n plaas in die Uyskraal-omgewing in Limpopo aangeval het. Die man het verskeie bytmerke opgedoen en moes ongeveer 200 steke kry.

Volgens Arthur Roden van Life 24-ambulansdienste het die wag wat op ’n private plaas in die omgewing werk, ná sy nagskof op pad huis toe ’n geluid agter hom gehoor. Sy huis is op die plaas geleë.

Op versoek word die wag en die plaas se naam anoniem gehou.

“Volgens die wag was die luiperd die volgende oomblik by hom en het hy begin hardloop,” vertel Roden aan Maroela Media.

“Die luiperd het hom aan die boud gegryp en hy het op die grond geval. Die luiperd het bo-op hom gespring en ’n struweling het tussen die wag en die kat uitgebreek.”

Volgens Roden het die wag die luiperd aan die nek gegryp en so hard as wat hy kan probeer wurg.

“Hy het die luiperd gelos en na die naaste werkershuise gehardloop om hulp te kry.”

Roden sê hy het omstreeks 06:20 ’n oproep van die voorval ontvang en is dadelik na die plaas toe.

“Ek het glad nie verwag om só ʼn oproep so vroeg op ’n Sondagoggend te ontvang nie. Ek was skoon oorbluf om te hoor ek moet op ’n luiperdaanval reageer.”

Volgens Roden het die wag erge snye en bytmerke aan albei sy hande, arms en bors opgedoen. Hy het twee tandmerke aan sy boud gehad.

“Die wonde het erg gebloei. Ek het die bloed gestop en die wonde verbind voordat die wag per ambulans na ’n hospitaal in Groblersdal geneem is.”

Volgens Roden is die wag dieselfde dag nog uit die hospitaal ontslaan.

“Die wag moes sowat 200 steke ontvang.”

Roden sê die wag se groter liggaamsbou en langer lengte het gehelp dat hy die luiperd kon aanvat.

“As die luiperd iemand met ’n kleiner liggaamsbou aangeval het, sou dié persoon moontlik slegter van die aanval afgekom het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JM ·

‘n Angswekkende ervaring. Is dankbaat dat die wag oorleef het.

Robert ·

Daai man is so taai soos ‘n ratel, bly hy het die onderonsie oorleef en vertrou hy sal herstel… wat ‘n storie om aan jou kleinkinders te kan vertel!

Sandra ·

Sowaar, ek kan net my indink hoe pynvol die byt en die krappe was. Die berig se nie of dit ‘n wildplaas is nie? Ek hoop die wag herstel goed van sy beserings.

Cherokee ·

Sandra, luiperds is nie gebonde aan wildsplase nie. Tog soort van vreemd (die aanval) want luiperds is nie mensvreters nie.

Toy ·

Sjoe ek sou dalk net daar flou geword het en luiperdkos gewees het. Adrenalien is ‘n wonderlike ding, dit gee krag wat jy nie sou gehad het normaalweg nie. Bly die wag is veilig.

Waarnemer ·

Daardie ou is n van Helsdingen…Hy maak sy broek vas met n swart mamba…..Give this man a BELLS!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.