Wag jy vir die jawoord? Dís dalk hoekom

Byna 24 000 egskeidings is in 2019 afgehandel. (Foto: pixabay)

Mans wag oënskynlik al hoe langer om die jawoord te vra.

Dít volgens Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) wat sê Suid-Afrikaanse mans trou deesdae gemiddeld op 37-jarige ouderdom, terwyl dié syfer in 2015 op 36 gestaan het.

Bruide word ook ouer. Die gemiddelde ouderdom waarop vroue hulle deesdae voor die kansel bevind, is nou 33. Dit is twee jaar ouer as die vorige gemiddeld, sê StatsSA.

Die navorsing het bevind mans is meer geneig om met jonger vroue te trou: Altesame 76,2% van mans is ouer as hul gades, terwyl 16% van die manne ʼn ouer vrou verkies. Sowat 7% van paartjies is dieselfde ouderdom.

Hier is van die bevindings:

  • 48% van mans wat nog nooit getroud was nie en met geskeide vroue trou, is jonger as hul bruide
  • 10,6% van geskeide mans wat met weduwees trou, is jonger as hul bruide
  • In 2019 was die gemiddelde ouderdom van mans wat skei 45 en die gemiddelde ouderdom van vroue wat skei was 41
  • Die gemiddelde ouderdom van mans wat tevore getroud was en weer skei is 55 en vir vroue 57
  • 23 710 egskeidings is in 2019 afgehandel (ʼn afname van 6,2% sedert 2018)
  • Meer vroue as mans het egskeidings aanhangig gemaak
  • Altesame 22 084 kinders is in 2019 deur egskeidings geraak

En wat is die kans dat ʼn dame se geskeide kêrel met haar gaan trou?

Byna 130 000 paartjies is in 2019 getroud. (Foto: pixabay)

“Data wys dat 57,9% van manlike geskeides met enkellopende vroue (wat nog nie tevore getroud was nie) trou. Van die geskeide mans wat met dié vroue getrou het, was 92,6% van hulle ouer as die vroue met wie hulle getrou het,” lui StatsSA se bevinding.

Die navorsers het ook bevind mans verkies om met vroue te trou wat nog nie tevore getroud was nie. In 2019 het 93,9% van mans getrou met vroue wat nog nooit tevore getroud was nie, 1,2% van mans het getrou met geskeide vroue en 0,4% van mans het met weduwees getrou.

StatsSA sê altesame 129 597 burgerlike huwelike is in 2019 geregistreer. Die meeste hiervan was in Gauteng (32 352), gevolg deur KwaZulu-Natal (21 753) en die Wes-Kaap (16 783). Net 3 692 huwelike is in die Noord-Kaap opgeteken, die minste van al die provinsies.

Die meeste huwelike was tussen mense wat nog nie vantevore getroud was nie en vroue trou gewoonlik op ʼn jonger ouderdom as mans.

Uit die meer as 23 000 egskeidings wat in 2019 afgehandel is, was die meeste tussen mense wat vir die eerste keer getroud was. Die meeste egskeidings was in Gauteng (6 318), die Wes-Kaap (6 108), KwaZulu-Natal (4 033) en die Oos-Kaap (3 137).

Daar was ʼn toename in die getal swart Suid-Afrikaners wat skei, terwyl die teenoorgestelde by wit paartjies ondervind is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sarel ·

Bly saam… ” friends with benefits without commitment”

Piet Snot ·

Die berig het liefdevolle redigering nodig: dieselfde ding word 3x gesê.

Roedolf Johannes ·

Dit gaan mos deesdae nie oor die belofte wat jy voor God afgelê nie,maar oor die eie ek,en dissepline wat kort gekom het md die opvoeding vd kinders

Bushy ·

Interessant, ek ken meer predikers en ouderlinge in hul tweede en derde huwelike as in hul eerste. Dissipline en opvoeding het absoluut niks hiermee te doen nie.

Jack ·

Baie interessant. Hoe het moraliteit en norme nie verander nie? Persone soos ek en my gade wat oor twee weke 56 jaar getroud sal wees is totale uitskieters.

Elsabe ·

Baie geluk aan jou en jou gade, Jack. Dit is bitter min beskore.

Nico ·

Jack ek is kort agter jou op 51 jaar dit is groot genade wat ons ontvang het

Strandloper ·

Dan is ons nog spring chickens met net 36 jaar van geluk agter ons. Daar was tye wat ons mekaar wou uitmoor maar as jy lief is vir mekaar dan werk jy dit uit.

My raad is maak vrede met die feit dat n vrou altyd reg is! Dit is waar en Ma laat my telkens op my neus duik! Dit is asof my Vroutjie wragtig n sesde sintuig het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.