Wag kritiek ná verdagtes losbrand

Hy is met ‘n gespesialiseerde mediese helikopter na die hospitaal gehaas. Foto: Verskaf.

ʼn Veiligheidswag wat aan diens was, is Sondagaand aan die Oos-Rand in die bors geskiet en moes per helikopter na ʼn hospitaal gehaas word.

Kapt. Pearl van Staad, woordvoerder van die Brakpan-polisie, het aan Maroela Media gesê die voorval het Sondag om 20:21 in Wolverhamptonstraat naby die Apex-treinstasie plaasgevind.

Volgens Van Staad was die veiligheidswag aan diens by die treinstasie toe vier mans hom genader het en gevra het waarheen hy op pad is.

“Hy het gesien hoe een van hulle sy hand in sy sak steek vir iets soos ʼn mes en toe het hy sy vuurwapen op hulle gerig. Voor hy kon mik het die verdagtes hom in die bors geskiet en met sy selfoon van die toneel gevlug,” het Van Staad gesê.

Volgens haar kon die man daarin slaag om vir hulp te roep op sy radio.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die man, vermoedelik 32 jaar oud, is een keer in die bors geskiet en was in ʼn kritieke toestand.

“Weens die aard van sy beserings is hy op die toneel behandel en toe met ʼn gespesialiseerde mediese helikopter na die hospitaal gehaas,” het Herbst gesê.

Volgens Van Staad word die man in die Verre-Oos-Rand-hospitaal in Springs behandel.

Die polisie ondersoek sake van gewapende roof en poging tot moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.