Wag, omstander gewond ná mislukte transitoroof

Foto: Twitter

’n Gewonde veiligheidswag en omstander is Maandagoggend na ’n hospitaal gehaas ná ’n mislukte transitorooftog in Sebokeng, suid van Johannesburg.

Kol. Athlenda Mathe, woordvoerder van die polisie, sê ’n geldwa het voor ’n kitsbank van Standard Bank gestaan sodat kontant opgelaai kon word toe een van die veiligheidswagte ’n verdagte motor opgemerk het wat die geldwa se pad probeer versper het.

Die veiligheidswagte het in die geldwa weggejaag terwyl onbekende verdagtes in die motor hulle agternagesit het. Dit het ’n jaagtog tot gevolg gehad. Die verdagtes het skote op die geldwa afgevuur waarna dit eindelik tot ’n stilstand gekom het.

Die veiligheidswagte is uit die geldwa gedwing. Die veiligheidswag wat die geldwa bestuur het en ’n omstander is in die proses geskiet voordat die verdagtes twee keer tevergeefs probeer het om die geldwa op te blaas.

Die verdagtes het eindelik met leë hande op die vlug geslaan.

Die polisie het op twee voertuie beslag gelê wat op die toneel uitgebrand het, asook ’n vuurwapen en ammunisie.

Die polisie doen ’n beroep op mense om enige inligting rakende die voorval by Stop Misdaad, 08600 10111, aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.