Wag rand pasiënt glo by private hospitaal aan

Stephen Makhombe, adjunkvoorsitter van Cope in Johannesburg, beweer hy is deur ’n veiligheidswag by die Daxina-hospitaal aangerand. (Foto: Verskaf)

ʼn 63-jarige man is vroeër vandeesmaand glo deur ʼn veiligheidswag by die Lenmed Daxina-hospitaal in Lenasia aangerand toe hy homself uit dié hospitaal wou ontslaan.

Stephen Makhombe, adjunkvoorsitter van Cope in Johannesburg, het aan Maroela Media verduidelik dat hy ontevrede was met die behandeling wat hy by die Daxina-hospitaal ontvang het. Hy wou na die Lenmed Ahmed Kathrada-hospitaal oorgeplaas word waarheen hy gewoonlik gaan.

Makhombe is weens maagprobleme in die Daxina-hospitaal opgeneem, maar kon glo nie slaap of rus nie – onder meer omdat ʼn ander pasiënt in dieselfde kamer besoekers buite besoektyd ontvang het wat hom gesteur het.

“Die tienerseun in my kamer se ma het al vroegoggend gekom, lank voor besoektyd. Ek het nog geslaap toe ek skielik koue lug op my gevoel het. Dit was omtrent 07:30. Sy het al die vensters oopgemaak en hulle het lawaai. Ek was ongemaklik en het baie siek gevoel. Ek het dit by een van die verpleegsters aangemeld, maar niks is gedoen nie. Besoektyd in die oggend begin om 10:00.”

Sy klagtes het glo op dowe ore geval en hy het selfs in ʼn wagkamer gaan sit om te kan rus.

“Hulle [die personeel] het niks aan die probleem gedoen nie en wou my ook nie oorplaas nie. Hulle het net gesê hulle mag nie.

“Ek het gevra dat verpleegsters my drup verwyder en het aangedring op ʼn vorm wat bevestig dat ek myself vrywillig ontslaan. Hulle wou dit nie vir my gee nie. Ek het toe uit die hospitaal geloop, waar ʼn veiligheidswag my buite die gebou voorgekeer het.”

Makhombe sê die wag het hom hardhandig hanteer, aan sy arm geruk en eindelik op die grond neergegooi en onder sy knie vasgepen.

“Ons het vir ʼn hele paar minute gestoei, maar hy was te sterk vir my en het sy knie op my bolyf gedruk. Ek het vir hom gesê ek is in erge pyn, maar hy het nie opgehou nie.”

Daarna is Makhombe na die hospitaal teruggeneem.

Makhombe sê hy het weens die voorval ʼn besering aan sy skouer opgedoen en moes self vir X-strale by die hospitaal betaal om te kyk of daar enige skade is.

Sagran Sukhessan, hopsitaalbestuurder by Daxina, het aan Maroela Media gesê dat die hospitaal weens “sensitiwiteit en die betrokkenheid van verskeie aandeelhouers” nie enige besonderhede rondom die beweerde voorval kan bevestig nie.

“Die veiligheid van ons pasiënte, besoekers, werknemers en dokters is ons [Lenmed Groep] kollektiewe prioriteit. Geweld van enige aard sal nie by enige van ons fasiliteite geduld word nie, en die toepaslike stappe sal gedoen word indien nodig,” het Jayesh Parshotam, bedryfshoof van die Lenmed-groep, gesê.

Makhombe is intussen na die Ahmed Kathrada-hospitaal oorgeplaas waar hy tans behandel word.

“Sodra ek ontslaan word, gaan ek ʼn saak teen die veiligheidswag maak en na ʼn prokureur soek wat my met verdere regsaksie teen die hospitaal en sekerheidsmaatskappy kan help,” het Makhombe gesê.

Die jongste voorval by ʼn hospitaal volg nadat ʼn bejaarde pasiënt, JP Neethling (71), deur ʼn veiligheidswag by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg aangerand is toe hy nie kon slaap nie en ʼn draai wou loop.

Die hospitaal het dié voorval bevestig en aangedui dat die betrokke wag, wat vir ʼn gekontrakteerde sekerheidsmaatskappy werk, by die fasiliteit verwyder is en ook deur die sekerheidsmaatskappy geskors is hangende ʼn interne dissiplinêre proses.

Neethling het die saak by die polisie aangemeld en oorweeg ook om regstappe teen die sekerheidsmaatskappy te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Judy ·

Van wanneer af het die veiligheidswagte so veel se by hospitale

Santjie van Soendal ·

Baie van die waste by staatshospitale is RILLERS!! Ek het eenmaal n pasiënt probeer besoek wat opgeneem was in Heidelberg se staatshospitaal. Optimaal Aggressief, wreedaardig en n Tiran! Ek wou net die toilet besoek. Totaal onhigiënies. Wasbak stukkend. Kon nie hande was. Die man wou my aanrand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.