Wag skiet glo kollega ‘verskeie kere’

Argieffoto

ʼn Veiligheidswag by ʼn kliniek in Limpopo is in hegtenis geneem nadat sy glo haar kollega geskiet het.

Die 49-jarige verdagte is ʼn veiligheidswag by die Shihoko-kliniek buite Tzaneen. Sy is in hegtenis geneem nadat sy glo haar kollega om 02:45 Donderdag verskeie kere geskiet het.

“Die slagoffer was vanoggend saam met die verdagte aan diens op die kliniek se perseel toe die verdagte hom verskeie kere met haar dienspistool geskiet en daarna van die toneel gevlug het,” sê brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder van Limpopo.

Volgens Mojapelo het mense in die omgewing die polisie genader nadat hulle geweerskote gehoor het. “Polisiebeamptes het die slagoffer kritiek beseer op die toneel aangetref. Hy het sy bewussyn verloor en is onmiddellik na die hospitaal vir behandeling geneem.”

ʼn Soektog vir die slagoffer se kollega het gevolg en die verdagte is by haar kêrel se huis nie ver van die hospitaal af nie vasgetrek. “Sy was steeds in haar uniform geklee. Die wapen wat na bewering gebruik is om die misdaad te pleeg is in haar besit gevind en op beslag gelê,” sê Mojapelo.

Hy sê die motief vir die skietery is nog nie bekend nie en die saak word ondersoek. Die verdagte sal Vrydag in die Ritavi-landdroshof verskyn op aanklag van poging tot moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Cherokee

Logiese afleiding is dat sy vies was vir hom. En geen skietopleiding gehad het nie.