Wag sterf, vier gewond in ‘haelstorm van koeëls’

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Veiligheidswag is doodgeskiet en vier ander mense ernstig gewond tydens ʼn transito-rooftog Maandagmiddag buite Elukwatini naby Badplaas in Mpumalanga.

Sers. Gerald Sedibe, polisiewoordvoerder, het gesê ʼn transitovoertuig was op pad van die Elukwatini-sakesentrum na Lochiel toe ʼn goue Mercedes Benz-motor met opset van agter in die transitovoertuig vasgejaag het wat veroorsaak het dat dit omslaan.

“Skielik is ʼn haelstorm van koeëls op die Fidelity-wagte se voertuig afgevuur en twee wagte is ernstig gewond. Die bestuurder is doodgeskiet,” het Sedibe gesê. “Voordat die verdagtes kon vlug, het twee verkeersbeamptes wat besig was om patrollie te doen onwetend op die misdaadtoneel afgekom. Die verdagtes het onmiddellik ook op hulle losgebrand en albei verkeersbeamptes is gewond.”

Volgens Sedibe het die verdagtes met ʼn onbekende bedrag kontant gevlug. Niemand is nog in verband met die rooftog in hegtenis geneem nie.

Pat Ngomane, die LUR vir gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling in Mpumalanga, het gesê die verkeersbeamptes is na die Embhuleni-hospitaal gehaas en later na ʼn hospitaal in Nelspruit oorgeplaas.

Ngomane het sy kommer uitgespreek oor die groot hoeveelheid transitorooftogte wat in die provinsie plaasvind. “Ons doen ʼn beroep op die gemeenskap om die polisie by te staan met inligting wat tot die inhegtenisneming van die rowers kan lei,” het hy gesê.

Sedibe het gesê enigiemand met meer inligting kan lt.kol. Beauty Marivate by 082 822 8357 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Alida ·

Liewe genade! Ek kan nie glo dat nie een van die skelms raakgeskiet is nie!

AL ·

Dis hartseer dat die veiligheidswag doodgeskiet is ipv die rowers.

Cherokee ·

Indien die hanteerders van geld werklik transitorooftogte wou beveg sou hulle ink gebruik het in die trommels wat die geld onbruikbaar sou maak indien die trommels oopgeforseer word. Sover ek weet bestaan die fasiliteite daarvoor maar dit word nooit soos in nooit gebruik nie. Dit sou transitorooftogte beëindig en ondersoek behoort ingestel te word na waarom so ‘n eenvoudige oplossing nie toegepas word nie.

Herman ·

So ‘n ondersoek sal dalk oplewer dat sekere mense in die binnekringe voordeel trek uit die rooftogte, wie weet?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.