Wag vas wat motoris ‘per ongeluk doodskiet’

Argieffoto: Kent Williamson

ʼn 42-jarige veiligheidswag is in hegtenis geneem nadat hy na bewering ʼn motoris per ongeluk doodgeskiet het terwyl polisiebeamptes besig was om twee vermeende diewe agterna te sit.

Kapt. Xoli Mbele, woordvoerder van die polisie, het gesê die noodlottige skietvoorval het Donderdag op die hoek van Hanover- en Main Reef-straat in Fordsburg, Johannesburg, gebeur. Volgens Mbele het die veiligheidswag gesien hoe die polisie twee verdagtes jaag en het hy ʼn enkele skoot in die verdagtes se rigting afgevuur.

Mbele sê die skoot het egter die verdagtes gemis en die koeël het ʼn 29-jarige man agter die stuur van ʼn rooi Kia Picanto getref. Die motoris is op die toneel deur paramedici dood verklaar.

Polisiebeamptes kon daarin slaag om die vlugtende verdagtes vas te trek en het daarna ook die veiligheidswag in hegtenis geneem. Daar is op sy vuurwapen en ammunisie beslag gelê.

Al drie verdagtes sal Maandag in die Johannesburg-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Sterkte ·

O my hel die sekuriteitswagte wat mense deesdae doodskiet gaan veroorsaak dat die regering hulle WAPENS gaan afvat en ons sonder enige beskerming sit. Asb manne, ons weet dit is julle werk EN julle skiet beter as die polisie maar onthou asb .. julle gaan vir moord aangekla word . al verdedig jy iemand of sy eiendom .. die wette is TEEN die wetstoepasser en VIR die skelm. JAMMER oor die ongeluk wat jou oorgekom het wat met lewensverlies van ‘n onskuldige persoon gepaard gegaan het en sterkte . dit is ‘n lang pad wat voorle.

Haan ·

“sterkte” die wet is nie TEEN die ‘wetstoepasser’ nie. Die wetstoepasser moet die wet KEN en weet dat mens slegs n vuurwapen mag gebruik indien jou of jou naastes se lewe dringend bedreig word… NIE om eiendom te beskerm nie. En as die wag ‘beter as die polisie’ skiet, sou hy geweet het wat ‘backstop’ is en nie soos n cowboy begin lood gooi het nie.

Amelia ·

Dan vra die SAP samewerking? Nee wat dankie, beter kyk anderkant toe en sorg dat jy uit die pad kom. Eerlik ek kry die veiligheidswag jammer. Hy het sekerlik net gedink hy help. Dink net hoe hy moet voel nadat vasgestel is dat hy iemand gedood het.

Koos1 ·

Amelia en as die persoon wat dood geskiet is, jou man, seun of Pa was. Sou jy nog dieselfde gevoel het?

kas ·

Sterkte, jammer om jou bubble te bars.Die polisie het die verdagtes gejaag nie die wag nie.Hulle was besig om weg te hardloop en dit vertel vir my die wag het nie uit noodweer geskiet nie.Moord sal nie staan in die hof nie maar wel strafbare manslag want sy intensie was nie moord nie.Hy sal onbevoeg verklaar word om ‘n vuurwapen te besit en hy sal sekerlik afgedank word.

Cherokee ·

Ek het dit soos jy gelees, kas. Die ander bydraers se simpatie is misplaas. Dit behoort by die slagoffer se famillie te wees.

MissDemeanor ·

Cherokee. Defnitief kry mens die slagoffer se familie jammer. Ek kry doe sekuriteitswag se familie ook jammer…want daai “stupid move” van hom is manslagting en terwyl hy tronk toe gaan vir dit sit sy familie in die knyp. Tragies hoe een dom ding verskeie lewens kan opdinges in n oogwink.

Cherokee ·

Soos jy sê Miss Demeanor, een stupid move kan ‘n kettingreaksie tot gevolg hê.

Jannie ·

Kas moord sal staan in die hof, die wag moes die moontlikheid voorsien het dat hy ń onskuldige persoon kon dood deur sy optrede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.