Wag vermoor, verdagte gewond in Jhb-rooftog

Die twee verdagtes was vasgetrek is (Foto: Verskaf)

Twee verdagtes wat sowat twee weke gelede ʼn veiligheidswag tydens ʼn sakeroof geskiet het, is Woensdag vroegoggend in Johannesburg in hegtenis geneem. Die wag is ná die skietvoorval in die hospitaal dood.

Brig. Irvin Perumal, bevelvoerder van die Johannesburg-Sentraal-polisiestasie, se kantoor het in ʼn verklaring gesê die twee verdagtes, onderskeidelik 25 en 26 jaar oud, is Woensdag om 02:00 in onderskeidelik Dobsonville in Soweto en Hillbrow vasgetrek.

Altesaam ses verdagtes het glo op 28 Oktober omstreeks 17:00 op die Skipper Bar-winkel op die hoek van De Villiers- en Kleinstraat in Hillbrow toegeslaan en die plek beroof.

“Drie verdagtes het die winkel binnegegaan en hulle as klante voorgedoen. Hulle het vuurwapens op die mense binne die winkel gerig en hulle gedwing om op die grond te lê,” sê die polisie.

Hulle het klere en ʼn onbekende bedrag kontant van die winkelbestuurder gesteel. Die bestuurder was in daardie stadium op pad bank toe.

“Die verdagtes het ook op pad uit ʼn 30-jarige veiligheidswag geskiet wat later in die hospitaal aan sy skietwond dood is.”

Een van die verdagtes is tydens die rooftog gewond. Hy is in hegtenis geneem nadat hy uit die hospitaal ontslaan is.

Volgens die polisie is die oorblywende drie verdagtes wat met dié sakeroof verbind word, steeds op vrye voet.

Die twee wat vanoggend vasgetrek is, sal na verwagting Donderdag in die Johannesburgse landdroshof verskyn.

Perumal het die goeie samewerking tussen die polisie en gemeenskap geloof nadat die verdagtes danksy die hulp van die gemeenskap aangekeer is.

“Verdagtes kan vlug, maar hulle kan nie vir ewig wegkruip nie. Een of ander tyd sal hulle opgespoor word en boete moet doen,” sê Perumal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann ·

Mens is verplig om met belasting geld die outjies te onderhou… tyd hulle weer hulle eie verblyf begin betaal.

JM ·

Dis lekker om te lewe in die tronk … daar is mos nie meer harde arbeid nie. Intussen moet die belastingbetalers hoes!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.