Wag voor passasiers in trein doodgeskiet

Die trein by die Chris Hani-treinstasie (Foto: Verskaf)

ʼn Veiligheidswag is dood nadat hy by die Chris Hani-treinstasie op die berugte sentrale spoornetwerklyn in die Wes-Kaap geskiet is.

Volgens ʼn verklaring van die United National Transport Union (Untu) het die voorval Dinsdag omstreeks 18:00 plaasgevind.

Sonja Carstens, ʼn woordvoerder vir Untu, sê die man was saam met ʼn vrouewag van die Passasierspooragentskap (Prasa), intussen uitgeken as Christelle Meyer, aan diens op die Metrorail tussen Kaapstad en Khayelitsha ten tyde van die voorval.

Volgens Carstens was albei partye aan boord die trein toe dit die Kaapstad-stasie net ná 16:00 verlaat het. Twee gewapende mans het hulle glo by die Heideveld-treinstasie oorrompel en toe ʼn pistool op hulle gerig. Een van die verdagtes het Meyer na bewering beveel om op die vloer van die trein te gaan lê waarna die trein weer by die Nyanga-treinstasie stilgehou het.

“Drie gewapende mans het in die trein gespring en talle passasiers beroof,” vertel Meyer. “Die trein het omstreeks 18:00 by die Chris Hani-treinstasie stilgehou waarna ons sou moes afklim terug Kaapstad toe. Ek het ʼn oproep in die masjinis se kajuit gehoor en die volgende oomblik het ʼn skoot afgegaan. Ek het omgedraai en toe gesien hy [die wag] is geskiet.”

Die veiligheidswag is na bewering met sy dienspistool in die keel geskiet. Hy is op die toneel dood. Meyer was glo drie weke terug in ʼn soortgelyke voorval, enkele dae nadat die sentrale netwerklyn in Kaapstad se treindienste weens geweld tydelik opgeskort is.

“Hy was so ʼn goeie man en het niemand skade aangedoen nie. Dit is so ʼn sinnelose moord – ons lewe beteken niks nie. Elke oggend wanneer ek huis toe gaan, besef ek dat ek nie weet of ek my 20-jarige dogter of my lewensmaat weer sal sien nie,” sê sy.

Untu het intussen ʼn skrywe aan Cromet Molepo, uitvoerende hoof van Prasa, gerig wat hom in kennis stel dat sy lede nié meer op die sentrale lyn sal werk indien polisiesigbaarheid en veiligheidsmaatreëls nie opgeskerp word nie.

Untu het in Maart 2017 by die Wes-Kaapse hooggeregshof aansoek gedoen om ʼn hofbevel om Prasa te dwing om te voldoen aan die bepalings van die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid, die Wet op Arbeidsverhoudinge en die Wet op Basiese Diensvoorwaardes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.