Wag wat glo kinders molesteer in hof

Argieffoto

Die veiligheidswag wat daarvan beskuldig word dat hy 87 leerders seksueel aangerand het, het Woensdag in die Protea-landdroshof verskyn.

Staatsaanklaer Cheryl Slack het aan die hof gesê sy kan nie bevestig dat 87 leerders seksueel aangerand is soos deur die media berig is nie. Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys, het gesê tot soveel as 87 kinders is by die AB Xuma Primary School gemolesteer.

Slack het gesê die staat is nog nie gereed vir ʼn borgtogaansoek nie omdat net 15 kinders tussen die ouderdom van vyf en 12 verklarings by die polisie gaan aflê het.

Die 57-jarige verdagte sal in ʼn uitkenningsparade verskyn. “Die staat versoek dat hy by die Orlando-polisiestasie gehou word vir die uitkenningsparade,” het Slack gesê.

Denise Mabasa, die beskuldigde se regsverteenwoordiger, het gesê hulle sal ná die uitkenningsparade ʼn formele borgtogaansoek bring.

Landdros Herman Badenhorst het die beskuldigde gewaarsku dat gratis regshulpverteenwoordigers dalk later skugter mag wees om hom te verteenwoordig as sy fondse sou opraak, aangesien hy private regsverteenwoordiging het.

Die saak is tot 25 Oktober uitgestel vir verdere ondersoek.

Lesufi het buite die hof gesê veiligheidswagte word deur die departement van gemeenskapsveiligheid voorsien. Lesufi het gesê vanaf 2018 sal daar geen ongemagtigde wagte by skole wees nie en dat daar een onderwyser by elke skool sal wees om kwessies rondom seksuele oortredings te hanteer.

Lesufi het ook bevestig dat daar nog twee sake onder die departement se aandag gekom het. Volgens hom is nog ʼn veiligheidswag en ʼn koorleier by dié gevalle betrokke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alida ·

Wat is daar nog om te ondersoek. 87 kinders kan nie verkeerd wees nie. Hy mag onder GEEN omstandighede borg kry nie. Hy is ‘n gevaar vir die samelewing.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.