Wag wat leerders glo molesteer weer in hof

Argieffoto

Die 57-jarige veiligheidswag wat daarvan beskuldig word dat hy 55 leerders van ʼn laerskool in Orlando, Soweto, na bewering seksueel aangerand het, sal na verwagting Woensdag weer in die Protea-landdroshof verskyn.

Dié veiligheidswag, wat sedert Oktober 2017 in aanhouding is, het glo 55 leerders by die AB Xuma Primary School seksueel aangerand. Hy staan tereg op aanklagte van verkragting en seksuele aanranding. Sy identiteit mag weens dié aanklagte nie bekend gemaak word totdat hy gepleit het nie.

Hy het in Oktober sy borgtogaansoek laat vaar. Die saak is in Januarie uitgestel nadat die beskuldigde se prokureur, Dennis Mabasa, hom aan die saak onttrek het as gevolg van ʼn botsing van belange. Die beskuldigde het daarna vir regshulp aansoek gedoen.

Maroela Media het vroeër berig die polisie in samewerking met die Gautengse departement van onderwys het ʼn ondersoek van stapel gestuur nadat bewerings aan die lig gekom het dat die wag 54 leerders by dié skool seksueel aangerand het. Die departement het later gesê die wag het glo 86 leerders seksueel misbruik. Die wag is egter deur verdere ondersoeke met 55 beweerde voorvalle verbind en van die leerders het reeds verklarings by die polisie afgelê en die man uitgewys as die beweerde oortreder.

Die wag is op 9 Oktober verlede jaar in hegtenis geneem en het op 11 Oktober vir die eerste keer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.