Waghond wil na varsproduktemarkte kyk

Die ondersoek sal kyk na enige faktore wat mededinging in die land se varsproduktemark belemmer, skeeftrek of beperk. (Foto: Maroela Media)

Die Mededingingskommissie het ʼn openbaremarknavraag van stapel gestuur na Suid-Afrika se varsproduktemarkte om te bepaal of daar enige kwessies in die waardeketting is wat mededinging verminder, verhoed of verdraai.

ʼn Marknavraag is ʼn algemene ondersoek na die toestand, aard en soort mededinging in ʼn mark, eerder as net ʼn ondersoeke na spesifieke gedrag deur ʼn bepaalde maatskappy.

Die kommissie glo die ondersoek moet gedoen word om die stand van mededinging binne die bedryf, die markeienskappe wat pryse bepaal, en die uitdagings wat boere in die gesig staar, te bepaal. Dit geld veral vir kleinskaalse en opkomende boere.

Volgens die kommissie speel die sektor ʼn belangrike rol in die ekonomie en werkskepping, terwyl voeding en die welstand van burgers verdere gewig aan die ondersoek verleen.

Die ondersoek gaan spesifiek kyk na kwessies rakende elke aspek van die waardeketting. Dit sluit in verkope van vars produkte deur boere aan klante wat kleinhandelaars, verwerkers, of die uitvoermark kan wees.

Die interaksie tussen kleinhandelaars en verbruikers, asook die verkoop en verspreiding van verwerkte voedselitems, kom nie in dié ondersoek onder die loep nie.

Volgens die kommissie is vier breë temas geïdentifiseer wat mededinging en markuitkomste kan belemmer, beperk of skeeftrek. Dit sluit in ondersoek na hoe die roete van die produsent tot by die mark pryse bepaal, die uitwerking wat insetkoste het en hindernisse wat toegang tot markte vir sekere produsente beperk.

“Landbou speel ʼn belangrike rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie omdat dit bydra tot voedselproduksie, werkskepping, die verskaffing van rou materiaal aan die agri-nywerheid- en vervaardigingsektor, asook uitvoergedrewe inkomste uit buitelandse valuta,” sê die kommissie.

Die kommissie het die voedsel- en agri-nywerheidsbedryf sedert 2008 geprioritiseer omdat die sektor ʼn bron van stapelvoedsel is en die moontlikheid het om heelwat werksgeleenthede te skep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Samuel ·

Dit is ontstellend om te sien hoe duur varsprodukte in die Kaapse Metropool geword het. Die wipplank ryery is ook verskriklik.

Swerwer ·

Nou waar gehasie kom dit vandaan, die 1 Minister het mos gesê dat boere nie belangrik is nie want jy koop sommer alles van die rak af…………………………dit is tyd dat die landburgertjies maar terug keer na die jare wat jy vrugtebome in jou erf geplant het en ‘n groente tuitjie gehad het. Dit help nogal met die huidige situasie in ons land.

Pieter ·

Stem saam met jou. Sluit aan by Urban Farmers, en geniet vars produkte, gekweek deur mense in die dorpsgebiede.

piet ·

Ek is meer besorg oor die 3de graadse gholfbal-appeltjies waarmee die SA verbruiker tevrede moet wees. Skande.

VannieBaai ·

Ek wens daar wil gekyk word na Vrot en Verlep (die ou Fruit and Veg) se gehalte van hul vrugte en groente. Goeie genade, die goed hou nie eens 2 dae nie dan moet mens dit maar weggooi! Dis skandelik dat ons oor die algemeen sulke swak gehalte vrugte en groentes moet koop ten duurste, maar die “beste” word uitgevoer. Sies man!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.