Wagte by Bloemfonteinse skool aangeval

Argieffoto van skoolgronde ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Vrystaatse polisie vra nou die publiek se hulp nadat ses onbekende verdagtes – gewapen met pangas – die veiligheidswagte van ’n laerskool in Bloemfontein oorrompel het. Die verdagtes het ook met die skool se sleutels op die vlug geslaan.

Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê twee veiligheidswagte was Maandagaand by Laerskool Lourier Park aan diens. Een van die wagte het die skoolterrein gepatrolleer terwyl die ander een in die wagkamer agtergebly het.

Dié wag het glo ʼn alarm hoor afgaan en gaan ondersoek instel. Dit is toe dat hy deur ses verdagtes, geklee in hoede en maskers om hul gesigte mee te bedek, aangeval is. Die wag se hande is vasgebind en hy is aangerand voordat die skool se sleutels by hom afgevat is.

Drie van die verdagtes het vandaar na die administrasieblok gegaan en ʼn veiligheidsdeur oopgebreek om toegang te verkry.

Die ander veiligheidswag wat besig was met sy patrollie, het inderhaas op die alarm gereageer en ’n waarskuwingskoot afgevuur voordat die verdagtes laat spaander het.

Die polisie en nooddienste is ná die voorval na die skool ontbied en die een veiligheidswag is in ’n stabiele toestand in die hospitaal opgeneem. Daar kon sedertdien vasgestel word dat slegs die skool se sleutels tydens die voorval gesteel is.

Genl.maj. Arthur Peter Adams, kommissaris van die Manguang-metro, doen nou ’n beroep op die publiek om met enige inligting omtrent die verdagtes na vore te kom. Inligting kan by konst. Marou Koloswa by 082 466 7255 of die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 aangemeld word.

Gemeenskappe wat naby skole woon word voorts aangemoedig om die polisie en veiligheidsdienste te waarsku indien hulle enige verdagte aktiwiteite en persone naby skole opmerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Shakespeare ·

Om inligting aan die meeste SAP lede te gee is soos om sop met n vurk te eet..

Swerwer ·

Te danke aan die 2 Paraat veiligheidswagte kon groter verlies en skade verhoed word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.