Vier veiligheidswagte het wonderbaarlik net geringe beserings opgedoen toe hul transitovoertuig Maandagaand op die N1 suid, wes van Johannesburg vermoedelik opgeblaas is.
’n Paramedikus van ER24 wat nie ten tyde van die voorval aan diens was nie, het kort nadat die voertuig aangeval is, op die toneel afgekom.
Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, sê die betrokke medikus was ná ’n skof op pad huis toe hy ʼn brandende voertuig op die snelweg opgemerk het. Die medikus het ondersoek ingestel en vier brandende voertuie, waaronder die transitovoertuig, aangetref.
“Na wat verneem word was hulle moontlik deel van die aanvanklike voorval,” sê hy.
Die nooddienste is na die toneel ontbied en die vier wagte is vir geringe beserings behandel voordat hulle na ’n hospitaal vir verdere mediese behandeling geneem is.
Die Gautengse polisie het intussen gesê daar word na meer as 30 verdagtes gesoek in verband met die transitorooftog. Die verdagtes het in meer as agt voertuie op die transitovoertuig toegeslaan. Drie van dié voertuie is op die toneel deur die verdagtes aan die brand gesteek.
‘n Saak van transitoroof, gewapende roof en poging tot moord word ondersoek.
- Hierdie berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is nadat nog inligting bekom is – red.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
5 Kommentare
Die transitowa rowe en opblaas is regtig nie meer snaaks of ‘n grap. Mense boet met hul lewens weens ANC boewe nalating. Dit hou net aan aan en dit wil voorkom of GEEN alternatiewe in plek gestel word. Indien wel so lig publiek net in asb…onskuldige mense se lewens op spel en uitvaagsels kom weg met miljarde!!!
Daar moes lankal ander planne gemaak gewees het met ongemerkte voertuie. Maar nou ja, daar sal ook onskuldige mense onnodig sterf want dit is om informate wat by die verskeie “Organisasies” werk/betrokke is wat die inligting uitlek van roetes, wie en waar en hoe laat.
ek vermoed indien daar 30 mense en 8 voertuie teenwoordig was, sou daar nie net r2 se kleingeld in die transito voertuig gewees het nie
Hoekom opblaas? Dan brand die geld ook mos uit.