Wagte rand tiener glo aan oor R50

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

ʼn Veiligheidswag en haar kollega sal na verwagting Vrydag in die Klerksdorp-landdroshof verskyn nadat hulle glo ʼn tiener vasgeketting en aangerand het oor R50 wat hy na bewering gesteel het.

Die beweerde aanranding het gebeur nadat die tiener glo versuim het om vir die veiligheidswag die koeldrank wat hy aangesê is om te koop, of die geld wat vir hom gegee is, aan haar terug te besorg.

Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, sê die voorval het Dinsdagmiddag by Tigane in Hartbeesfontein net buite Klerksdorp gebeur.

Volgens Mokgwabone het die vroueveiligheidswag die 16-jarige seun R50 gegee om vir haar ʼn koeldrank te gaan koop. Die seun het egter nooit na haar toe teruggekeer om die geld of die koeldrank aan haar te oorhandig nie.

“Die veiligheidswag het toe glo die seun gaan soek. Toe sy hom opspoor, het sy hom na die plaaslike kliniek geneem waar sy werk,” sê hy.

“Met behulp van haar kollega, ʼn man, het sy die seun glo met boeie aan ʼn paal vasgeketting, hom uitgetrek en met ʼn gordel aangerand.”

ʼn Video van die voorval het kort daarna op sosiale media opgeduik. Daar kan glo in die video gehoor word hoe die kollega die seun beledig en die vrou aanhits om die slagoffer nog harder aan te rand.

Die erg aangerande seun is later deur ʼn barmhartige Samaritaan na ʼn ander kliniek geneem vir behandeling, aangesien die een waar die voorval plaasgevind het, glo gesluit was.

Die 41-jarige vrou en haar 42-jarige kollega is kort ná die voorval in hegtenis geneem en staan nou tereg op aanklag van onsedelike aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, het sy skok oor die voorval uitgespreek.

“Hierdie saak moet deeglik ondersoek word om te verseker dat geregtigheid geskied,” het hy gesê.

Die polisie se ondersoek duur intussen voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Cherokee ·

Waarom nie, Sarie? Dit is omdat die anc jou tipe houding het,, wat dit so deurmekruis gaan.

JohanEtz ·

Mobjustice kan Dien as afskrikmiddel in SA waar diefstal en korrupsie hoogty vier?

Misky ·

In die nuwe SA kan jy mos nie sulke dinge doen nie en hulle is veronderstel om dit eerstehands te weet. Ek stem en dit was verkeerd en hy moes ‘n les leer, maar hoe hulle dit gedoen het, is heeltemal verkeerd.

Lourens ·

Het hulle hom aangerand of bloot die pak slae gegee wat hy verdien het?

Kobus ·

Is sy dom of net arrogant? My verstaan van die berig is dat hulle die seun geboei en aangerand het waarna ‘n video op sosiale media versprei is. Het sy en haar vriend voor kollegas die kind aangerand of wat mis ek? Vreemd dat daar altyd ‘n videograaf in die omtrek is

Ansie ·

So, diefstal is maar reg? Nee wat, hy moet maar sy straf vat. Dalk het die pakslae hom gered van ‘n toekomstige lewe as krimineel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.