Wagtyd vir KZN-kankerlyers ‘drasties verkort’

Sibongoseni Dhlomo, KwaZulu-Natal se LUR vir gesondheid. Foto: ANA

KwaZulu-Natal se gesondheidsdepartement is die hoenders in oor wat hulle bestempel as ʼn “doelbewuste en meedoënlose veldtog” deur sommige media-instellings om die departement se goeie naam te skaad.

Volgens dié departement is die onkologie-agterstand en ‑wagtye in die provinsie “verkort tot net enkele weke”.

“KZN se gesondheidsdepartement neem met kommer kennis van die voortgaande veldtog om sy talryke pogings af te kraak; dié pogings het trouens daartoe gelei dat die wagtye aansienlik verkort is en daar ʼn veel kleiner agterstand is vir pasiënte wat behandeling vir gevorderde kanker nodig het,” sê die departement in ʼn verklaring.

Die departement meen dit is ʼn “doelbewuste en genadelose veldtog deur sekere lede van die media [onder wie die Durbanse dagblad Daily News] om die geweldige vordering te ignoreer wat gemaak is om kankerbehandeling en onkologiedienste uit te brei”.

Volgens hulle is 205 afsprake van 6 Augustus tot 3 Desember vanjaar by die Addington-hospitaal in Durban gereël. By die Inkosi Albert Luthuli- sentrale hospitaal (IALSH), ook in Durban, is die getal 153 en by Grey’s-hospitaal in Pietermaritzburg 198.

Die departement kom tot die gevolgtrekking dat berigte oor ʼn agterstand van 8 000 kankerpasiënte in die provinsie “dus onwaar is”. “Ingrypings deur die provinsiale gesondheidsdepartement het verseker dat dié provinsie sewe ten volle werkende liniêre versnellers het; meer as in enige ander provinsie.”

Drie onkoloë is van die Wits Gesondheidskonsortium vir die IALSH gekontrakteer en twee vir die Addington-hospitaal.

“Danksy dié maatreëls wissel die wagtyd om ʼn onkoloog in die IALSH of Addington-hospitaal vir die eerste keer te spreek van drie tot vier weke, tot agt weke, na gelang van watter soort diens verlang word, terwyl die aantal nuwe pasiënte wat geregistreer is, 1 036 beloop,” sê die departement.

Voor die ingrypings moes pasiënte vyf tot ses maande wag. Intussen sê die departement daar is geen wagtyd vir kinders wat ʼn onkoloog moet spreek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Werner ·

DR Sibongiseni Dhlomo, MEC van gesondheid is die groot probleem. Ek verstaan nie SA. As my kind dood is oor sy nalatigheid en plein slegheid sal ñ oog vir ń oog met hom toegepas word. Hy vermoor mense met sy houding.

Duncan Potgieter ·

Die MEC rep nie `n woord wat gebeur het die die vorige twee jaar voor die huidige ingryping. Die waarheid is dat duisende kanker pasiente geen kanker behandeling gekry het nie weens verouderde toerusting/toerusting wat nie gewerk het nie en honderde van die pasiente gesterf het. As dit nie was vir die “Suppliers” uit die privaat sektor wat `n paar maande gelede`n paar miljoen rand se kanker toerusting geskenk het , het daar nog niks verbeter nie.
Dit wys maar net nog `n maal dat die onbekwame en korrupte ANC regering nie die wil en bekwaamheid het om `n staatshospitaal te bestuur nie en dan wil hulle nog boonop die “NHP” implementeer en bestuur – openbare gesondheidsdienste is een gemors en alle staatshospitale en klinieke moet aan die privaatsektor oorgedra word om gesondheidsdienstedoeltreffend te bedryf en die Regering moet maandeliks `n subsidie betaal om die koste te dek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.