Soorte resepte:

Wagyu: ‘Vleiservaring soos min’

Deur Nichelle Steyn

Foto verskaf deur Beyond Beef

Suid-Afrikaners is dit eens: ’n Lekker stukkie vleis op die kole, en alles is weer klopdisselboom.

Langs die braaivleisvuur kry ons weer perspektief, bespreek ons die verlede, toekoms en hede en sorteer ons geskille uit, maar dit gaan grotendeels oor ons vleiservaring. Dit gaan immers oor die lekker stukkie sappige vleis wat op die kole gaar word. G’n wonder Erfenisdag staan algemeen as Braaidag bekend nie.

Met vandag se stygende voedselpryse, ’n tegniese resessie en ons beursies wat al hoe platter word, is dit dan nog die moeite werd om geld te bestee op goeie gehalte vleis? Die duurste biefstuk in Suid-Afrika is gewis Wagyu-beesvleis.

Foto: Nichelle Steyn

Wagyu jaag die verbruiker ten minste drie keer meer as die gemiddelde prys wat ons gewoond is om vir ’n goeie biefstuk te betaal, uit die sak. Is dit dan die moeite werd om so ʼn bietjie meer daarvoor te betaal?

Vir dié wat aanhangers van Wagyu is, is daar nie ’n beter “vleiservaring” nie, soos hulle dit noem. Uitgesoekte slaghuise wat Wagyu aanhou, soos Fleisherei Deli in Centurion, kan nie byhou by die aanvraag daarvoor nie.

“Dit is ’n vleiservaring soos min, en kan die verbruiker se persepsie van gehalte vir altyd verander,” meen Michael Bradfield, uitvoerende hoof van Wagyu Suid-Afrika.

Wat maak Wagyu-beesvleis dan so anders?

Foto: Nichelle Steyn

Volgens Bradfield gaan dit oor die vetinhoud en onversadigde vetsure van die vleis. “Vleis se smaak lê in die vet en ook die samestelling van die vetsure wat hoë vlakke oliensuur bevat. Wagyu is juis so duur weens die Wagyu-beesras se vetsamestelling asook die genetiese vermoë van die bees om vet tussen die weefsel van die vleis te stoor – met ander woorde die spesiale soort sagte marmering van die vleis.”

Dit is egter nie die soort vet wat ʼn hartaanval aanhelp nie. Dié vet is soos sagte botter en smelt byvoorbeeld onder liggaamstemperatuur. “Wagyu se vet is ook soortgelyk aan vette wat in byvoorbeeld avokado of vis gevind word. Dit is eintlik baie goed vir jou, en omdat dit die vleis so ryk maak, is ’n kleiner porsie van sowat 200 g vleis, meer as voldoende,” sê Bradfield.

Hy is van mening dat die marmering en unieke kombinasie van vetsure aan verbruikers daardie unieke vleiservaring gee. “Wagyu-beesvleis se smaak is ongeëwenaard,” sê hy.

Annelize Rautenbach, verhoudingsbestuurder by Beyond Beef, sê ’n Wagyu-bees se karkas word verwerk in ander snitte as die gewone filet, lendeskyf en kruisskyf. “Wagyu word onder ’n unieke graderingstelsel verkoop wat nie op die ouderdom van dier gebaseer is nie, maar eerder hoe veel die snit vleis gemarmeer is. Die snitte word ook daarvolgens geprys.”

Sy sê daar is snitte wat goed by ’n braai kan inpas, maar dit is nie die soort vleis wat ’n mens met ’n sous eet, marineer of selfs met braaisout toegooi nie. “Al wat ’n stukkie Wagyu nodig het, is ’n sagte vuur. Dit kan vir om en by vyf minute, met ’n bietjie sout en peper, gebraai word. Dit gaan alles oor die vleis.”

Sy sê verbruikers wat van hul vleis baie gaar hou, sal heel waarskynlik nie van Wagyu hou nie. “ʼn Mens eet nooit Wagyu oorgaar (“welldone”) nie omdat Wagyu se sappigheid en geur juis in die vet lê, en dit vinnig weggebraai kan word.”

Fleisherei Deli verkoop nie net Wagyu-biefstukke nie, maar het ’n verskeidenheid van Wagyu-produkte te koop. “Ons het biltong, droëwors en ook burger-patties vir diegene wat dit wil uittoets.”

Die slaghuis hou op Erfenisdag, ’n braaidag by die winkel waar James Schnetler, eienaar van Beyond Beef, Wagyu-biefstuk en Wagyu-burgers gaan gaarmaak.

“Die publiek is welkom om ’n draai te maak en ’n gratis happie van die gesogte vleis te geniet. Kom vat ’n kans en probeer dit, ” sê Johan Jonker, eienaar van Fleisherie Deli se 19 slaghuise.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Vleis ·

Verskil van slaghuis tot slaghuis – ±R600/Kg – Dit is die een in Fourways

ek sê maar ·

Sjoe daar moet baie ryk mense wees dat die slaghuise nie kan voorbly met dit nie. Ek kan skaars stukkie steak bekostig wat nog te sê hierdie!

Cherokee ·

As hulle werklik nie kan voorbly nie sal hulle nie adverteer nie.

Blom ·

As die kwaliteit van die vleis so goed is, sal ek bereid wees om dit te betaal.
Het al te veel “gewone rump” by verskeie slaghuise en supermarkte gekoop wat so taai is, mens sukkel om dit te kou.

Erick ·

Hulle sê dit het maar meestal met die braaier te doen ;) skreeu as jy hulp nodig het.

Anita ·

Ek het die ander dag vir die eerste keer van die Wagyu vleis geëet. Dit is regtig baie lekker en sappig. Pragtige diere ook. Slag om en by 800 kg en hoër uit.

Adri ·

Wat is “marmering”? Dui dit daarop dat die vleis soos marmer lyk? Nuwe een vir my.

Bok ·

Adri dit is die vet verspreiding tussen die vleis snit sirlion het bv op die kant n lekker stukkie vet die Wagyu ook maar baie vet versprei oor d hele snit

CJ ·

Stadig nou Anita. Jy klink nou soos een van die ouens wat naweke langs die viswaters staan….

Hendrik Thomson ·

Ek vervoer gereeld wagyu beeste slagpale toe, hulle weeg lewendig 700kg en slag 380kg uit

ManieM ·

Het self al die Wagyu vleis ervaring gehad en iets besonders. Eet nie groot porsies nie want dis baie reik aan marmering ens.

anton ·

Ag nee regtig, dis belaglik duur.
Volgens my is geen vleis daai prys werd nie.
Maar ryk mense dink en doen mos anders as normale mense.
Dit gaan duidelik nog baie goed in S.A

ChrisE ·

Ek het nog nie van die vleis geëet nie. Wil of sal graag. Dit is nou ongelukkig so die bemarkings/beinvloedingsaksie van die media en verspreiders vang die verbruiker weereens met die broek op die knieë. Soos iemand tereg opgemerk het, vleis is vleis. Dit kwaliteit word bepaal watter beesras, ouderdom en waar die bees vandaan kom. Ongelukkig word die meeste beeste in die land in ‘n voerkraal vir die slagpale voorberei. Op die platteland sal jy nog miskien ‘n slaghuis kry waar die slagter direk van die boer koop. Daardie beeste het in die veld geloop en “normale” voer en kos ingekry en nie groeihormone of ander middels nie. Van die lekkerste vleis wat ek al geeët het was ‘n Brahman/Siemantaller kruising tollie. Die fynproewers sal sê daar is ander vleisrasse wat lekkerder, maar dit is soos wyn. Mens moet nooit stry oor mooi, lelik en lekker nie. Ek smul aan enige stuk vleis, dit is ‘n verkil van my normale polonie braai.

brens ·

dankie tog ek eet nie vleis nie!! belaglike prys! duisende honger mense in SA; net die kapitaliste kan dit bekostig ja.

Netso ·

Het in Santon dit gesien teen R2500 per kg! Ook net gehoor dis aaklig.

CJ ·

Stem saam met ChrisE.
Die verbruiker word weer vir n sucker gevang. Net soos die eksotiese wildspesies wat belaglike miljoene verhandel het sal die wagyu ook nie te lank vat voor mense besef hulle is vir n ride gevat.

Ruben ·

Eks nou nie n vleis kenner nie maar die vleis op die foto lyk anders as gewone vleis snitte wat jy in die slaghuis koop…dit moet seker baie lekker wees as mense dit koop teen daai prys net soos almal van ons nie Ferraris kan kan almal van ons ook nie die tipe vleis eet nie

Gustav ·

Ek gee nie om hoe daardie vleis proe, en hoe goed die slagguis my jam om die bek probeer smeer nie, in my lewe sal ek nooit soveel betaal vir vleis nie dis malligheid! Wat maak dit so duur? word die beeste grootgemaak op protein shakes?

janneman ·

Dis opvallend hoe mense oordeel fel voor hulle alle feite in ag geneem het of hulleself daarvan vergewis het. Die GOEDKOOPSTE Wagyu koei het vrydag aand op die veiling vir meer as R400 000 verkoop……..dis nie bemarkings foefies nie. Daar is genoeg inligting op Google dat elkeen n ten minste 80% idee kan kry wat die beeste en hulle vleis so uniek maak. So as jy dit nie kan bekostig nie, moenie dit probeer afmaak as sleg om jou eie ego te paai nie, hou dan liewer net verby. Die oorgrote meerderheid wat dit wel al ge eet het, begroot eenvoudig daarvoor om die ervaring te kan herhaal, en dis baie gesond.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.