Wakker toeris stuit ‘renosterstropers’

Renosters in die Krugerwildtuin. (Foto: Argieffoto/Maroela Media)

Drie vermeende renosterstropers is in die Krugerwildtuin in hegtenis geneem danksy ’n toeris wat geweerskote gehoor en dit onder veldwagters se aandag gebring het. Die renosterstropers het egter in daardie stadium reeds vier renosters gestroop.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê drie Mosambiekse burgers het na bewering Vrydag toegang tot die wildtuin verkry voordat ’n besoeker later die dag geweerskote gehoor en alarm gemaak het.

Veldwagters is van die geweerskote in kennis gestel en ’n helikopter is onmiddellik na die toneel gestuur waar die skote gehoor is. Drie mans is met die helikopter se aankoms gewaar. Hulle is kort daarna in besit van ’n jaggeweer, ’n knaldemper, drie messe, vier selfone en drie sakke aangekeer.

Drie renosterhorings en vier karkasse is ook gevind. Drie van die renosters se horings was in daardie stadium reeds verwyder. Die vierde renoster se horing was nog nie verwyder toe die veldwagters op die vermeende stropers toegeslaan het nie.

Mohlala sê ’n voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat die vermeende stropers se mes gebreek was. Hulle kon daarom nie die vierde horing uitsny nie.

Die polisie in Skukuza is ontbied en die verdagtes is in hegtenis geneem.

Die drie vermeende stropers is tussen die ouderdomme van 23 en 49 en na bewering onwettig in Suid-Afrika.

Hulle staan tereg op aanklagte van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, asook aanklagte wat verband hou met stropery en onwettige betreding van die park, en oortreding van die Immigrasiewet.

Mohlala sê nog aanklagte kan moontlik later bygevoeg word namate die polisie se ondersoek vorder.

Die verdagtes sal na verwagting Maandag in die Bosbokrand-landdroshof verskyn.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris, is vol lof oor die veldwagters se vinnige reaksie.

“Ons is vasbeslote dat die inhegtenisneming as ’n les vir ander sal dien dat niemand net na die park kan gaan en jag soos hulle wil sonder enige gevolge nie. Ons hoop dat die hof die verdagtes ʼn gepaste vonnis sal oplê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

miche ·

Baie dankie aan die toeris.
Ek wonder hoekom die veldwagters nie ook die skote gehoor het nie.

Niel ·

Die wildtuin is baie groot en ons veldwagters kan nie orals wees nie.

Harley Davidson ·

Wie se idee was dit om die oorgrens park te stig ,en sa het ook nie ‘n regte weermag nie want dan kon hulle opgelei word om die park grense te beveilig.

Henri ·

Ek sal graag die werklike syfers van renostergetalle wil weet. Die huidige proses om renosters weer van uitwissing te red, is besig om liederlik te faal. Renosterhoring kan lewensvatbaar ge”boer” word, siende dat die horing teruggroei en jaarliks of tweejaarliks ge”oes” kan word om aan die groeiende vraag te voldoen. Probeer die taktiek dat ons wilde renosters uitgelos word.

Christine ·

Dit wil vir my voorkom asof al ons diere deesdae gejag word. Met ons onlangse besoeke aan die Kruger sowel as Pilansberge, het dit vir ons gelyk asof albei parke baie minder diere het. Kan dit wees dat ons parke se diere snags gestroop word, en nie net van toepassing is op renosters nie? Kan dit kaping wees van ons toerisme?

Yvonne ·

Christine….is enigsins onmoontlik in die land……niks verbaas my meer nie….n spul honger wolwe

Tonginmykies ·

Stuit beteken om te keer… as daar reeds 4 renosters gestroop is, dan was niemand gestuit nie.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Hoe kan mens met ‘n skoon gewete enige buitelandse besoeker aanmoedig om in veiligheid die Kruger Nasionale Park te besoek? Gestel die stropers het die besoeker se motor gesien en gereken die besoeker het hulle gesien die renosters stroop? “Too ghastly to contemplate”.

Di ·

Onthoring van hierdie diere is AL manier wat hulle van totale uitwissing gaan red. Weet van ‘n hele paar projekte landwyd waar hulle reeds renosters onthoring het om hulle te beskerm teen stopers. Ja dis seker ook nie die beste oplossing nie, maar ten minste staan die dier ‘n beter kans op oorlewing. Daar moet VERAL in die Kruger Wildtuin dringend ‘n poging aangewend word om hierdie renosters te beskerm aangesien dit teen die grens van Mosambiek is

Henri ·

Kruger onthoring alreeds renosters. Die stropers skiet in elk geval die onthoringde renosters, want hulle loop vir ure op die arme, en gedoemde, renoster se spoor en reken dis tydmors. So het die arme dier die trauma beleef om verdoof te word en sy/haar grootste verdediging teen ander renosters verloor en is in elk geval dood geskiet deur die stropers.

Om met renosters te boer is die enigste behoud. Die horing groei weer nadat dit ge”oes” is en kan so weer ge”oes” word elke 18 tot 24 maande sonder om die renoster te dood. Ook kan bulle apart van mekaar in kampe gehou word en nie mekaar beseer of doodmaak nie.

Dries ·

Hierdie buitelanders/ stropers is erger as die 10 plae van Egipte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.