
Die Wallaby-stut, Taniela Tupou, is Sondag in Johannesburg van sy selfoon besteel. (Skermgreep: Australiese Rugbyunie)
Die Wallaby-stut Taniela Tupou sal na verwagting reg wees vir Saterdag se kragmeting teen die Springbokke in Johannesburg, nadat hy in ʼn grypdiefvoorval in die stad snyplekke opgedoen het.
Volgens die Australiese Rugbyunie het Tupou (23) en ander lede van die Wallabies se voorry Saterdagaand omstreeks 21:15 van ʼn restaurant na die Sandton Sun, waar hulle tuisgaan, teruggestap, toe ʼn man verby Tupou geloop en sy foon gegryp het. Die restaurant is net oorkant die pad.
Tupou het klaarblyklik eers gedink dit was een van sy spanmaats wat sy foon gegryp het.
“Ek het gedink dis een van die ouens, so ek het teruggekyk. Die man het ʼn kappiebaadjie aangehad en het weggehardloop met my foon,” het Tupou aan rugby.com.au gesê.
Tupou het die man agternagesit en het ligte snye aan sy arm opgedoen toe hy die selfoon uit ʼn voertuig, waarin die grypdief gespring het, probeer teruggryp het.

Tupou het ligte skraapmerke opgedoen (Skermgreep: Australiese Rugbyunie)
“Die enigste ding wat ek verloor het, is my selfoon. Ek kan daarmee saamleef,” het Tupou gesê.
Die polisie het ná die voorval verklarings by al die spelers wat saam met Tupou was, afgeneem.
Die Wallabies het Saterdag in Johannesburg aangekom, nadat hulle die afgelope twee weke by Sun City in Noordwes deurgebring het.
Kapt. Mavela Masondo, Gautengse provinsiale polisiewoordvoerder, het onderneem om kommentaar te lewer sodra hy meer inligting oor die voorval het.
Tupou het gesê hy voel “oukei” ná die voorval.
Die Australiese Rugbyunie berig dat Sandton beskou word as een van die “veiliger buurte” in Johannesburg, maar dat Tupou se ervaring hulle herinner het aan die gevare om snags op straat te stap.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
17 Kommentare
Welkom in Suid Afrika
Die minister gaan nou weer Afrikaans Sprekendes die skuld gee
Mr Topou, on the ruby field you will have the better of South Africa…..but on the streets of Johannesburg you have no chance.
Sandon die veiligste dalk die duurste ja geen plek in Suid Afrika meer veilig nie
Nou ja toe – neem kennis Australie en die res van die wereld. Hier is niks veilig nie.