Walter Meyer-moord: Vrou se kêrel ook vas

Walter Meyer. Foto: http://www.waltermeyer.co.za

Sophia Meyer, die vrou van die bekende landskapskilder Walter Meyer wat in Desember verlede jaar vermoor is, se nuwe kêrel sal binnekort saam met haar in die beskuldigdebank staan.

Meyer is op 22 Desember 2017 in sy huis buite Upington in die Noord-Kaap met ʼn skerp voorwerp doodgesteek. Sophia is kort daarna in hegtenis geneem. Daar word beweer dat sy Meyer tydens ʼn rusie doodgesteek het.

Sophia het in Januarie vanjaar in die Upington-landdroshof verskyn waar sy op borgtog van R2 000 vrygelaat is. Die dossier is daarna na die direkteur van openbare vervolging (DOV) gestuur vir ʼn besluit.

Phaladi Shuping, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het aan Maroela Media gesê ná bestudering van die dossier het die DOV besluit dat Sophia wel vervolg sal word vir die moord op Meyer.

Shuping sê daar is ook besluit dat Sophia se huidige kêrel, Joel Marcel Dumond, as medebeskuldigde by die klagstaat gevoeg sal word. “Hy word aangekla omdat hy na bewering met die misdaadtoneel gepeuter het,” sê hy. Dumond het reeds in dié verband in die hof verskyn.

Die saak sal op 2 Julie in die streekshof in Upington voorkom waar die twee beskuldigdes se regsverteenwoordiging vasgestel sal word.

Sophia is die ma van twee van Meyer se kinders. Meyer was ook die pa van twee kinders uit sy eerste huwelik.

Meyer was een van die land se bekendste landskapskilders en sy kunswerke is al in New York, Londen en München uitgestal. Hy het in 1989 sy BA-graad in Kuns aan die Universiteit van Pretoria verwerf en het daarna vir langer as drie jaar by die Staatliche Kunstakademie in Düsseldorf studeer.

Meyer het deur sy loopbaan verskeie toekennings en eerbewyse ontvang, onder meer die FNB “Vita Art Now”-toekenning in 1994.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

rafel ·

EK VERSTAAN nie. Sy kry R2000 borg maar die boer van die wes-kaap wat sy eie eiendom met n trekker omstoot (niemand is dood) sit in die tronk sonder borg? Ek is stomgeslaan

Koos ·

Wel, wel, wel… beide eende van dieselfde dam. Die keuse van ‘n moordwapen was ‘n sterk leidraad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.