Walvis by Kleinmond gered

Walvis reddingspoging Kleinmond

Foto: Verskaf/NSRI Hermanus

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) kon Sondag daarin slaag om ʼn noorkapperwalvis by Kleinmond in die Wes-Kaap te bevry nadat dit verstrengel geraak het.

Die NSRI in Hermanus is omstreeks 12:30 ontbied nadat verskeie mense gesien het hoe die walvis tussen Palmiet en Kleinmond in boeie en toue verstrengel geraak het.

Volgens Deon Langenhoven, NSRI Hermanus se stasiebevelvoerder, is die seereddingsvaartuie South Star en die Jaytee III en snytoerusting van die Suid-Afrikaanse walvis-ontstrengelingsnetwerk (SAWDN) vir die reddingsprojek gebruik.

“Die walvis van ongeveer 12 m lank is sowat 50 m van Kleinmond se kus gevind. Die walvis se stert was in boeie en toue verstrengel. Die Jaytee III is aan die walvis vasgemaak, waarna die snytoerusting gebruik is om die walvis in kalm seetoestande uit die toue en boeie te bevry. Die walvis het daarna weggeswem en nie gelyk of dit beseer is nie,” het Langenhoven bygevoeg.

Voël verstrengel in vislyn ook gered

Tydens ʼn roetine-opleidingsoefening Saterdag by die NSRI-basis in Simonstad het leerling-bemanningslede saam met hul instrukteurs aan ʼn toukursus gewerk. “Die instrukteurs het gesien hoe ʼn wilde voël, vermoedelik ʼn bontkiewiet, deur die voordeur aangestap kom en voor die bemanningslede te staan gekom het. Die voël het nie gelyk of hy skrik of wil wegvlieg nie,” het Darren Zimmerman, Simonstad-stasiebevelvoerder, vertel.

“Dit wou voorkom asof die voël verstrengel was in vislyn. Die voël het voor die bemanningslede gestaan asof hy om hulp vra. Die lede het hom opgetel, maar die voël het geen poging aangewend om te vlug nie en hom doodeenvoudig aan die bemanningslede oorgelaat.

“Hulle het gesien die voël is wel verstrengel en het die vislyn sagkens begin ontknoop en wegsny terwyl die voël sy volle samewerking gegee het.

“Nadat al die vislyn verwyder is, het die voël gelyk asof hy eers sy bene rek voor hy weggevlieg het,” het Zimmerman gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan. ·

Met elke dag se negetiewe nuus is hierdie fantastiese goeie en positiewe nuus.
Kom gee ons meer hiervan Maroelamedia en los die negetiewe nuus.
Dankie

Ouma ·

Ag dis ‘n mooi storie! Ook van die walvis. So sien ons weer die mooi raak wat daar is om ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.