Walvis gered wat op Plett-strand uitspoel

Die moordvis (orca, oftewel killer whale) wat op 11 Desember 2015 op ʼn strand in Plettenbergbaai uitgespoel het. Foto: NSRI

Die moordvis (orca, oftewel killer whale) wat op 11 Desember 2015 op ʼn strand in Plettenbergbaai uitgespoel het. Foto: NSRI

ʼn Moordvis (orca, oftewel killer whale) is Vrydagaand gered nadat hy op ʼn strand in Plettenbergbaai in die Wes-Kaap uitgespoel het.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê die jong walvis, ongeveer 6 m lank, is omstreeks 20:30 op Robberg-strand gevind waar hy uitgespoel het. Dit is vermoedelik dieselfde een wat die afgelope paar dae in Plettenbergbaai gesien is waar hy naby die kus swem.

“Lede van die publiek het die NSRI-bemanning gehelp om emmers water oor die walvis uit te gooi om hom nat en gesond te hou terwyl daar planne gemaak is om dit terug in die water te kry,” het Lambinon gesê.

Een van die NSRI-bemanningslede, wat mariene biologie studeer, het met ʼn verteenwoordiger van die departement van omgewingsake en ʼn plaaslike veearts beraadslaag oor die beste plan van aksie. Lambinon het gesê verskeie pogings is aangewend om die walvis terug in die water te kry, maar weens die laagwater het die walvis telkemale weer uitgespoel.

“Die reddingspan kon naderhand daarin slaag om die walvis in ʼn sloot met water te kry wat gehelp het om hom nat te hou, terwyl reddingswerkers die walvis dieper die water in gesleep het. Toe dit vir die walvis diep genoeg was om te swem, het hulle langs hom in die see geswem terwyl hulle aan hom vashou en aanpor om al dieper te gaan,” het hy gesê.

“Die walvis het aanhou probeer terugswem strand toe. Die reddingspan het ʼn lyn in die water gemaak tussen die walvis en die strand en liggies op die water geslaan om hom aan te moedig om dieper die see in te swem.”

Volgens Lambinon is die strand dwarsdeur die nag en Saterdagoggend gemonitor en dit wil voorkom asof die reddingspoging suksesvol was. “Die walvis is gesien waar hy al langs die strandfront swem, volgens berigte besig om te vreet. Ons is versigtig optimisties dat ons reddingspoging suksesvol was,” het hy gesê.

Hy het ook al die lede van die publiek wat by die reddingspoging betrokke was, bedank vir hul moeite. “Die NSRI en lewensredders sal steeds deur die loop van die dag op die uitkyk vir die walvis wees,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Strussbob ·

Die wêreld is ons woning nie- selfs di skepping bewys dit

Mariétte ·

Dankie vir julle omgee. Dis hoekom die mens oor die skepping sal regeer.

magdas ·

Ek is baie bly hy kon gered word. die water was seker maar ook baie koud vir die redders. Ek dank die Here elke dag vir brandweer manne verpleegsters en dokters en almal wat bereid is om n dier of mens se lewe te red.

arie plaasbroer ·

Ai, dood is `n feit `n van die lewe.
Selfmoord nou nie juis nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.