Walvis reis ‘halfpad om wêreld’

Mariene bioloë het egter vir lank kop gekrap oor die werklike afkoms van hierdie walvis (Foto: Verskaf)

ʼn Gryswalvis wat in Mei 2013 aan die kus van Namibië waargeneem is, het die geskiedenisboeke gehaal deur die langste afstand in die see as mariene gewerwelde dier af te lê. Navorsing kan nou, sewe jaar later, bevestig dat dié walvis ʼn beraamde 27 000 km vanaf sy geboorteplek in die noordelike Stille Oseaan tot by die Atlantiese Oseaan gereis het.

Hoewel dit nie vreemd is vir gryswalvisse om van sy Stille Oseaan-bevolking te migreer nie, was hierdie walvis se verskyning by Walvisbaai in Namibië uniek. Dit is omdat dit glo die eerste van sy spesie is wat suid van die ewenaar opgemerk is.

Mariene bioloë het egter vir lank kop gekrap oor die werklike afkoms van hierdie walvis.

Ná jare se genetiese navorsing het navorsers verbonde aan die Durham Universiteit in Brittanje en die Universiteit van Stellenbosch (US) vasgestel dat dié Namibiese gryswalvis van die noordelike Stille Oseaan afkomstig is. Hul bevindinge is Woensdag in ʼn artikel in die vaktydskrif Biology Letters gepubliseer.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur die US, het navorsers bevind dat dié walvis via die Arktiese Oseaan na die Atlantiese Oseaan gereis het. Dié deurgang is slegs moontlik gemaak weens die afname in ysvloei wat toegeskryf kan word aan klimaatsverandering.

Prof. Rus Hoelzel, ’n evolusionêre bioloog van die Durham Universiteit en hoofouteur van die artikel, het ’n volgordebepaling van die hele genoom van die walvis gedoen ten einde sy herkoms te bepaal. Dié bepaling het vasgestel dat sy geboorteplek die noordelike Stille Oseaan is.

Hoelzel sê wat navorsers egter nog nie weet nie, is of hierdie merkwaardige lang migrasie slegs ‘n toevallige rondlopery is, en of sy voorkoms in die Atlantiese Oseaan ’n voedingsuitstappie verteenwoordig.

“Gryswalvisse is vroeg in die negentiende eeu in die omgewing van Korea en Japan bykans tot uitwissing gejag, terwyl die bevolking in die oostelike deel van die noordelike Stille Oseaan minder erg geraak is,” het Hoelzel gesê.

Volgens die US se verklaring, het navorsers aanvanklik gewonder of die walvis dalk oorgebly het van ’n walvisbevolking wat in die Atlantiese Oseaan geleef het, maar vermoedelik jare gelede al uitgewis is. Die laaste waarneming van ’n gryswalvis in dié oseaan dateer terug na die 1740’s.

Navorsers het ook gewonder of die walvis dalk ’n aanduiding is van die begin van ’n nuwe bevolking in dié gebied.

Fatih Sarigol, mede-outeur van die artikel en bio-informatikus, sê hulle sou verkies het om met meer as een monster te werk, of om só ’n geskiedkundige migrasie met ’n GPS-opsporingstoestel vas te vang.

“Niemand kon voorsien dat hierdie walvis die Suid-Atlantiese Oseaan sou besoek nie. Vir sulke onverwagse geleenthede in die wetenskap moes ons van buitengewone metodes gebruik maak om sy herkoms te kon vasstel,” het Sarigol gesê.

Dr. Simon Elwen en dr. Tess Gridley, direkteure van die Namibiese Dolfynprojek en navorsingsgenote in die departement plant- en dierkunde aan die US, sê hulle het dadelik geweet dat hierdie waarneming ’n ongewone gebeurtenis was.

“Gedurende die twee maande wat die walvis in Walvisbaai gebly het, het ons soveel as moontlik inligting ingesamel. Dit het die neem van genetiese monsters behels, asook gedetailleerde foto’s, aangesien gryswalvisse op grond van hul merke geïdentifiseer kan word,” het Elwen en Gridley gesê.

Die navorsers kom in die artikel tot die gevolgtrekking dat die waarneming in die Suid-Atlantiese Oseaan, saam met ’n paar ander waarnemings in die Noord-Atlantiese Oseaan oor die afgelope dekade, aandui dat die spesie aan’t beweeg is. Een van die redes waarom hulle migreer, kan aan menslike bedrywighede toegeskryf word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jzjz05 ·

Dit baie intersant, Ek dink na 27000 km moes die man n paar dae in Walvisbaai rus

Jaco ·

Ek wens ek kan ook soos dié walvis sommer so migreer na ‘n beter plek, ‘n plek SONDER:
beurtkrag
Regstellende aksie en BEE
Plaasaanvalle
Plaasmoorde
Lae standaard onderwys
Swak vuil staatshospitale
Ens ens. My lys is eintlik BAIE lank

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.