Walvis maak amok in PE-hawe

Lede van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) en die Suid-Afrikaanse Walvisbevrydingsnetwerk (SAWDN) het Dinsdag ingegryp ná ooggetuies die verstrengelde walvis gewaar het. (Foto: NSRI)

’n Boggelrugwalvis het Dinsdag omtrent amok in die Gqeberha (Port Elizabeth)-hawe gemaak toe dit verstrengel geraak het in visvangtoue.

Die proses om die dier te bevry het ʼn groot oponthoud by ’n tenkskipterminaal veroorsaak en die walvis het boonop later in die pad van ʼn tenkskip in die hawe beland.

Lede van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) en die Suid-Afrikaanse Walvisbevrydingsnetwerk (SAWDN) het Dinsdag ingegryp ná ooggetuies die verstrengelde walvis gewaar het.

“By ons aankoms op die toneel het ons ʼn jong, sewe meter lange boggelrugwalvis in die hawe gevind. Visvangtoue en twee dryfboeie was om ʼn gedeelte van die walvis se stert gedraai,” sê Ian Gray, ʼn SAWDN-koördineerder.

Gray sê die walvis was gedweë en het beweegruimte gehad.

Die reddingspan het met ʼn NSRI-seereddingsboot, Spirit of Surfski 4, al nader aan die walvis beweeg en gespesialiseerde toerusting gebruik om die visvanglyne te sny en die walvis te bevry.

“Die vislyne en dryfboeie is uit die water gehaal.

“Die walvis is gemonitor en het gesond voorgekom. Pogings om die walvis uit die hawe se ingang na die oop see te begelei was egter onsuksesvol, wat ’n tydelike ontwrigting vir skeepsverkeer veroorsaak het.”

Gray sê hulle het die walvis sowat ’n uur dopgehou, waarna hulle hom nie meer kon sien nie.

“Kort daarna het ons ’n oproep van Transnet-veiligheidsbeamptes ontvang dat die walvis in ʼn beperkte, skaars toeganklike tenkskipterminaal gewaar is.”

Die reddingspanne is weer ontbied waar hulle die walvis tussen ’n tenkskip en die pier gevind het.

“Pogings om die walvis uit te begelei was haas onmoontlik.

“Die tenkskip was op pad om te vertrek en aangesien die walvis nie in onmiddellike gevaar was nie, gesond voorgekom en vrylik rondgeswem het, het ons besluit om te wag tot die tenkskip vertrek en die situasie daarna te evalueer.”

Volgens Gray was die walvis Woensdag nêrens te sien nie en het hy vermoedelik na die oop see teruggeswem.

Hy sê hulle is egter versigtig optimisties en sal die situasie dophou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Phillip ·

So n ou stouter hoop hy of sy is veilig en maak nog Kalfies heheheheh (:-)

Cherokee ·

Bietjie minder as twee dekades gelede, was daar ‘n walviskalf in die Durban-hawe, wat deur die hawe ingang na die oop see begelei is met bote, toue en nette.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.