Die strandgebied in die Strand, Wes-Kaap, is Woensdag vir alle vakansiegangers gesluit nadat die karkas van ʼn walvis uitgespoel het.
Johan van der Merwe, lid van die burgemeesterskomitee vir energie, omgewing en ruimtelike beplanning, het gesê die karkas se teenwoordigheid op die strand hou ʼn gesondheidsgevaar vir strandbesoekers in.
“Die bloed van die karkas kan haaie na die gebied lok, wat ʼn groot gevaar vir swemmers kan inhou,” het hy gesê.
Volgens van der Merwe het die Stad Kaapstad Dinsdagaand van die karkas bewus geword nadat dit opgemerk is waar dit in die see dryf. Dit het kort daarna uitgespoel en die strand moes noodgedwonge gesluit word.
“Ons sal so spoedig moontlik die nodige masjinerie kry om die karkas na die Vissershok-stortingsterrein te neem, waar dit vernietig sal word,” het hy gesê.
“Sodra die karkas verwyder is en die gebied veilig verklaar word, sal ons die strand weer heropen,” het hy bygevoeg.