Walvis wat in tou verstrengel raak dopgehou

(Foto: NSRI/Facebook)

ʼn Suidelike noorkapper is in die omgewing van Kommetjie in die Wes-Kaap ontknoop nadat dié walvis in vislyne verstrengel geraak het.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse walvis-ontknopingsnetwerk (SAWDN), het gesê ʼn inwoner van Scarborough het die walvis Woensdagmiddag opgemerk. Dit het gelyk of die walvis in nood verkeer en in ʼn tou verstrengel is.

Vrywilligers van die SAWDN en lede van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het uit die Houtbaai-hawe vertrek en op twee suidelike noorkappers afgekom. Een van die walvisse het gelyk of hy in vistou verstrengel was, het Lambinon gesê.

Dié walvis het onder die water verdwyn. “Dit lyk of die tou ontknoop is toe die walvis onder die water in is. Los vistou is in die omgewing gevind,” het Lambinon gesê.

Nóg ʼn boot van die NSRI het die twee walvisse ʼn kort rukkie later opgemerk. Hulle het vrylik geswem en dit het nie gelyk of enige van die walvisse verstrengel is nie.

“Die SAWDN is versigtig optimisties dat die walvis hom self kon loswikkel, maar die SAWDN, die NSRI en ander owerhede sal die situasie steeds dophou,” het Lambinon gesê.

Die netwerk het ook die inwoner wat aanvanklik die voorval aangemeld het geloof vir sy vinnige optrede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sonneblomkind ·

dit is sommer sulke positiewe nuus. Dankie NSRI en die man wat dit aangemeld het. Dankbaar vir diereliefhebbers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.