Walvis wat twee keer uitspoel by Lambertsbaai van kant gemaak

Die hawe op Lambertsbaai. (Foto: Facebook)

ʼn Dwergpotvis, die wêreld se kleinste walvisspesie, is die afgelope naweek van kant gemaak nadat dit vir die tweede keer op Lambertsbaai in die Wes-Kaap uitgespoel het.

Die dwergpotvis sou glo nie die tweede stranding oorleef nie en daar is besluit om dit van kant te maak.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), sê die span is Vrydag kort voor 12:00 in kennis gestel dat ʼn miniatuurwalvis by Lambertsbaai oor ʼn pier gespoel het.

“Die walvis was lewend, maar het snywonde oor sy lyf gehad, moontlik toe dit oor rotse meegesleur is voor dit uitgespoel het,” sê Lambinon.

Die Weskus- mariene strandingsnetwerk is in kennis gestel oor die voorval en reddingswemmers van die NSRI het die walvis terug in die see gehelp.

“Dit het gelyk of die walvis dit sou oorleef, maar kort daarna het dit weer uitgespoel.”

Die Transnet-haweowerheid, departement van omgewingsake en die polisie is ook ingelig en daar is besluit om die walvis menslik van kant te maak. Die owerhede het die karkas reeds verwyder.

“Al die betrokkenes se pogings om die walvis te red is prysenswaardig,” sê Lambinon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.