Wanneer is burgerlike verset die oplossing?

Ernst Roets is die uitvoerende voorsitter van Opinor en die hoof van beleid en aksies by AfriForum. (Foto: Reint Dykema)

Wat beteken die woord “geregtigheid” werklik? En in watter situasie word burgerlike verset die oplossing? Hierdie tema was lanklaas so aktueel en is beslis nie ʼn vreemde konsep in Suid-Afrika nie.

Opinor, ʼn ideesentrum van die burgerregteorganisasie AfriForum, het Woensdag ʼn verslag bekendgestel wat poog om ʼn verstaanbare raamwerk te verskaf vir ʼn veldtog vir burgerlike verset. Die verslag bevat ʼn oorsig oor die teorie en etiek van so ʼn verset, asook praktyke wat vir dié soort protes gebruik word.

“Dít is vir ons ʼn besprekingsdokument en daarmee wil ons nie sê dat AfriForum ʼn burgerlikeversetveldtog gaan aanpak nie.

“Ons het wel opgemerk dat burgerlike verset toenemend ʼn kontemporêre verskynsel in Suid-Afrika word. In hierdie omstandighede kan ons nie bekostig om nie daaroor te praat nie,” het Ernst Roets, uitvoerende voorsitter van Opinor, gesê.

Onderdane van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) het hulleself al met die ontstaan van Suid-Afrika se hedendaagse geskiedenis teen dié megakorporasie verset omdat hulle beperkinge geplaas het op die manier waarop mense handel kon dryf.

Talle bevrydingsbewegings het hulle teen die regering en sy wette verset met die aanloop tot die 1994-verkiesing.

In van die meer onlangse voorbeelde van burgerlike verset in Suid-Afrika het burgers geweier om e-tol te betaal of selfs inperkingsregulasies oortree, wat hulle as irrasioneel beskou het.

Roets waarsku dat burgerlike protes voortaan meer algemeen gaan word omdat daar ʼn skeiding is tussen wat burgers voel die land se Grondwet is en wat werklik op voetsoolvlak plaasvind.

Roets, wat ook die hoof van beleid en aksies by AfriForum is, meen die dokument is ʼn inleiding tot insig oor die breër kwessie van burgerlike verset en gesprekke moet daaroor gevoer word.

Ernst Roets en Robert Duigan beantwoord vrae uit die gehoor by die bekendstelling van ‘n verslag oor burgerlike verset. (Foto: Reint Dykema)

Die verslag is deur Rob Duigan, ʼn navorser by Opinor, saamgestel. Hy het bevind burgerlike verset is ʼn spesifieke politieke strategie en dit word onderskraag deur spesifieke begrippe van politieke mag en legitimiteit.

Dit is egter nodig dat ʼn burgerlikeversetveldtog, wat suksesvol wil wees, staat maak op breër politieke bewegings en ʼn verwikkelde, gedesentraliseerde maatskaplike ondersteuningstelsel.

Die verslag oor burgerlike verset is deur Rob Duigan, ʼn navorser by Opinor, saamgestel. (Foto: Reint Dykema)

Duigan het verder gesê burgerlike verset gebeur gewoonlik wanneer lede van die gemeenskap nie hulleself wil onderwerp aan sekere reëls of wette wat hulle as onregverdig of onbillik beskou nie.

“Dit is ʼn gemeenskaplike en openbare oproep aan die staat om regverdigheid en geregtigheid vir ʼn gemeenskap te herstel.”

Duigan meen dat ʼn burgerlike samelewing gewoonlik vra vir private eiendomsreg, eie kulturele instellings en die vryheid om die godsdiens van hulle keuse te beoefen.

“Burgerlike ongehoorsaamheid is gewoonlik ʼn eis van landsburgers om weer hulle volle burgerskap te kan opeis.”

Duigan sê voorts dat geweld as ʼn vorm van burgerlike verset altyd ʼn groot versoeking is omdat dit ʼn heerlike magsvertoon is vir ʼn groep wat onderdruk voel.

Hy benadruk dat ʼn burgerlikeversetveldtog veel meer kan vermag met kreatiwiteit soos om gesagsfigure bespotlik te laat lyk en die media sover te kry om nuusdekking aan hulle verset te verskaf.

Kyk hier na ʼn opname van die Opinor-verslag se bekendstelling by die Klein Kaap-boetiekhotel in Centurion:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Werner ·

Darem iemand wat na ander werkbare alternatiewe kyk.Dit is klaar n stap in die regte rigting.Beter as n gestemmery.

Pieter ·

Ons moes lankal begin het met n burgerlikeverset die anc kommuniste lag vir ons hulle weet die blankes praat net. Om elke keer hof toe te gaan help ons nie veel nie die regters werk vir die sleg anc.

Papsak ·

Dankie vir mense wat nog omgee en na sulke goed kyk baie dankie

Andries ·

Daar was ‘n bespreking oor die verval van die regstelsel en regspleging – gaan daar enige wesenlike stappe daaruit volg?

Barney ·

Bugerlike verset is ń realiteit want julle hou aan ons onderdruk met maskers, inspuitings en spyt oor ons wit is. Dit gaan nog lelik raak. Hoor wat ek sê.

Anoniem ·

Baie jammer mnr Duigan, politieke gesagsfigure is dikvellig, kyk maar net na die Zuma geval. Hulle steur hulself nie daaraan nie, boonop speel die media ook in hulle hande en sal nie help om hulle bespotlik te laat lyk nie. Die enigste vorm van burgerlike verset is aksie, harde aksie, dis al taal wat hulle verstaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.