Wanneer kom die reën?

Argieffoto

Argieffoto

Wanneer daar nie ‘n sterk ontwikkelde El Nino, of sterk ontwikkelde La Nina-stelsel is nie, is dit ‘n nagmerrie om oor die langer termyn weer te voorspel, sê Stefan Steyn, Landbouweerkundige van die Vrystaatse Universiteit.

Tonie Roux, weervoorspeller van die weerdiens in Bloemfontein, stem ook saam dat akkurate voorspellings vanjaar ‘n nagmerrie is, veral oor tydperke langer as sewe dae. Die probleem is dat daar nou ‘n swak-ontwikkelde El Nino is, wat weervoorspellers daartoe laat neig om laer reënval oor somerreënvalgebiede te voorspel.

“Ons verwag egter nie vir die eerste helfte van Februarie dat goeie reënkanse oor die binneland sal ontwikkel nie,” het Roux Woensdag aan Maroela Media gesê. “Die groot vlieg in die salf is die goed-ontwikkelde laedrukstelsel oor die Mosambiekkanaal wat die weerstelsesl wat dié tyd van die jaar oor die binneland geleë moes wees, nou ooswaarts geskuif het. Die stelsel in die Mosambiekkanaal sal waarskynlik nog so twee weke daar vertoef, en intussen kan die noord-oostelike dele van die land, die oostelike hoëveld van Mpumalanga en selfs dele van KwaZulu-Natal moontlik reën verwag.

Word net na die weerkristalbal vir die volgende tien dae gekyk, lyk die prentjie nie belowend nie.

Tot die einde van die voorspellingsperiode op Vrydag die 13de, lyk dit of net die verre noordelike dele van die land ’n redelike reën te wagte kan wees, wanneer dit na verwagting eerskomende Vrydag in die orde van 20 mm sal uitsak. Plekke soos Louis Trichardt en Phalaborwa kan hierdie lafenis verwag, as uitvloeistel van die stelsel oor die Mosambiekkanaal.

Oor die algemeen is die neerslag wat landswyd hier en daar voorspel word skaars ’n katspoegie, en meestal minder as ’n millimeter.

Kaapstad, wat eintlik in die winterreënvalgebied val, kan môre, Donderdag, ’n ligte lafenis verwag. Ook Johannesburg kan Donderdag ’n vlagie verwag.

Durban sal oor die volgende paar dae ’n paar ligte buie beleef, maar daarna neem die reën ook die wyk tot aan die einde van die voorspellingsperiode.

Die meeste plekke regoor die land kan wel op Donderdag, 12 Februarie ’n ligte lafenis verwag, maar van lekker sous is geen sprake nie.

Rustenburg kan egter hierdie Sondag ’n ligte bui te wagte wees. Volgens Roux word dan enkele los donderbuie oor dele van Noordwes en die Noordwes-Vrystaat verwag.

Upington se weerkaart tot Vrydag die 13de is kurkdroog.

Verlede jaar was amptelike die warmste jaar sedert met rekordhouding begin is, en het 1998, wat die rekord gehou het, getroef. Maar aardverwarming beteken nie noodwendig dat dit oral droër word nie. Sommige dele kan hoër reënval verwag, maar vir baie dele beteken dit ’n groot deurmekaarspul met ongekende storms, soos siklone.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gerhard Bezuidenhout ·

Dit begin regtig kritiek raak in sekere gebiede en daar is al baie skade . Indien dit nie binne dievolgende tien dae nie behoorlik reen nie is ons in vir n ramp omdat die meeste graan nou volwassenheid nader en die gras is gladnie watwonders nie. Aan my medeboere wil ek sterkte toewens en manne kom ons gaan asb. laag op ons kniee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.