Wapens, ammunisie in dam ondersoek

(Foto: Verskaf)

Die polisie het ’n span ervare kundiges saamgestel om ondersoek in te stel nadat etlike vuurwapens en ammunisie in die Raubenheimerdam buite Oudtshoorn in die Klein-Karoo gevind is.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, sê ’n munisipale werker het vroeër tydens ’n roetine-inspeksie ammunisie by die dam gevind waarna hy dit by die polisie aangemeld het. Die werker het Donderdag na die dam teruggekeer nadat die dam se watervlakke gedaal het en op nóg ammunisie afgekom.

Lede van die polisie se honde-eenheid, duik-eenheid en misdaadintelligensie-eenheid is Donderdag by die dam ontplooi waar hulle oor twee dae verskeie vuurwapens, onderdele van vuurwapens en ammunisie uit die water gehaal het.

Die wapenvonds sluit in drie Martini Henry-gewere, ’n BSA-windbuks, ’n antieke haelgeweer, twee rewolwers, ’n .303-geweer en 8 820 patrone.

Pojie sê die ondersoek duur voort en daar word verwag dat meer ammunisie moontlik uit die water gehaal kan word.

“Ons doen ʼn beroep op almal wat kan help om die persoon wat verantwoordelik is vir die storting van die items op te spoor om na vore te kom,” sê Pojie.

Inligting kan by die polisie op Oudtshoorn by 044 203 9000 of die Misdaadstopnommer by 0860 10111 aangemeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.