Wapens by Kaapstad-hoërskool gekonfiskeer

Die SAPD het verskeie onwettige items gekonfiskeer by Woodlands High School in Kaapstad (Foto verskaf)

Die polisie het Donderdag beslag gelê op ʼn verskeidenheid van onwettige items tydens ʼn soektog by Woodlands High School in Mitchells Plain, Kaapstad.

Debbie Schafer, LUR van onderwys in die Wes-Kaap en Alan Winde, LUR van gemeenskapsveiligheid, het die skool besoek om die onverwagse soektog deur die SAPD te oorsien. Dié operasie vorm deel van ʼn groter veldtog om veiligheid in skole in die provinsie te verbeter ná bendegeweld weer opgevlam het in die provinsie.

Die provinsiale departement van onderwys het in ʼn verklaring gesê die meerderheid van voorvalle wat aangemeld word, vind nie op die skoolpersele plaas nie, maar gewaarsku dat bendegeweld steeds na skole kan oorspoel wanneer die leerders direk betrokke is.

“Ons is besorg oor die veiligheid van leerders en onderwysers wanneer bendegeweld opvlam in die gemeenskap en dat wapens moontlik skool toe gevat kan word. ʼn Veilige skoolomgewing is noodsaaklik as ons wil seker maak dat gehalteonderrig gelewer word. Dit is noodsaaklik dat ons skole wapen- en dwelmvry bly,” het Schafer gesê.

“Die realiteit is dat sommige leerders wel skool toe kom met gevaarlike voorwerpe en onwettige dwelmmiddels, ondanks die feit dat ons provinsiale Skolewet uitdruklik bepaal dat geen persoon hierdie items enige tyd op ʼn skoolperseel mag besit nie.”

Volgens die veiligeskoledirektoraat is 177 voorvalle in 2017 aangemeld waar leerders met dwelmmiddels betrap is. In 2018 het die getal voorvalle tot 194 gestyg. Ongeveer 56 voorvalle is aangemeld waar leerders wapens by hulle gehad het by die skool en in 2018 het die getal voorvalle tot 78 toegeneem.

“Dit is baie kommerwekkend en daarom het die provinsiale departement met die SAPD saamgewerk om dié onverwagse soektogte by skole oor die provinsie heen uit te voer,” het Schafer bygevoeg. “Die moontlikheid bestaan dat leerders, wat gevaarlike voorwerpe, alkohol of dwelmmiddels besit, moontlik ernstige sielkundige skade of fisiese skade kan aanrig.”

Winde het gesê daar was ʼn rits voorvalle van geweld in Mitchells Plain en 25 moorde is in Februarie in die gebied aangemeld. “Hierdie tipe voorvalle moet nie by enige van ons skole plaasvind nie. Dit is tragies dat onskuldige leerders en onderwysers daaraan blootgestel word.”

Winde het Donderdag ook gesê hy is teleurgesteld dat die polisieminister Bheki Cele ʼn versoek, dat die SANW ontplooi moet word in gemeenskappe waar bendebedrywighede plaasvind, verwerp het.

Cele het glo gesê die misdaadsituasie word deur die SAPD hanteer. “Daar is nie enige behoefte dat die SANW in die Wes-Kaap ontplooi moet word nie. Die huidige ingryping lewer positiewe resultate,” het die minister gesê, aldus Winde.

“Minister Cele moet die inwoners van die Wes-Kaap laat weet waar dié ingrypings goeie vrugte afwerp of waar die SAPD misdaad hanteer, soos hulle veronderstel is om te doen. Om die waarheid te sê, as die minister só vol vertroue is in die uitslag, moet hy die kwartaallikse misdaadstatistiek bekend stel, sodat almal die positiewe uitslag kan sien. Dit moet ook die vervolgingstatistiek insluit. Ons kan wettig aandring op hierdie statistiek, maar hy weier om dit te oorhandig.”

Winde het gesê die minister leef in ʼn fantasiewêreld, want die realiteit van die gemeenskappe is heeltemal teenstrydig hiermee. “Mense leef in volgehoue vrees; inwoners word gyselaar gehou in hul huise – hulle is bekommerd dat hulle dalk deur ʼn opslagkoeël getref mag word.”

Hy het weer verwys na die 25 moorde in Mitchells Plain in Februarie, en 17 moorde in Bonteheuwel sedert die begin van die jaar. “Ons weet dat daar 10 moorde en 10 pogings tot moord daagliks in ons provinsie gepleeg word. Ons weet dat 7 van die top-10 moordstasies in die Wes-Kaap geleë is. As dit nie erg genoeg is om die minister oor te haal tot aksie nie, dan is niks nie.”

Winde sal met sy regspan in gesprek tree om te bepaal watter stappe gedoen kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Steve ·

Is sigarette en lighters onwettig? Is n skêr op skool terrein onwettig? Watse wet bepaal dat die onwettig is?

marieta ·

Steve dit was gedagte ook dat kinders van daai skere seker het vir klasprojekte…alhoewel ek dink die ‘naaldwerkskere en haarsnysker’ duur is vir skool… en baie kinders rook….nogal stuyvesant wat nie cheap is nie so geld is nie issue nie …. maar dit kan gevaarlike wapens wees…met die baie brandstigting kan lighters gevaarlik wees…maar baie dinge kan wapens wees

Tanya ·

Gee hulle nog regte. Kinders het met mos regte. My kinders het n reg gehat om nag te se. Gee pak terug op skool en by huis. Dit is hoe die min die land wil maak vol krumenele.

Stel ·

Sigarette en lighters definitief!!!!!! Wat wil ‘n kind knip op die terrein? Natuurlik is dit onwettig en teen skole se reëls, dit weet alle leerders van graad 1 af.

Josua Keys ·

Stel, ek weet nie in watter skool jy was nie maar ‘n sker, passer kraspen hammer was deel van ons skool opvoedin, die verskil is ons het dit gebruik vir skool projekte maar vandag maak hulle mense dood daarmee, gelukkig kon ons nog met vuiste geveg het en was dit nie nodig om ‘n persoon dood te maak nie, na die geveg het jy hand geskut en beste vriende geword, hoe het die tye nie verander nie of hoe?????

Obserweer ·

Die probleem hier is waarvoor die skêr
gebruik word. En in die geval defnitief as n wapen. Dit gaan baie rof by die skole mense. Kinders word in bendes in geboelie en as hul weier is daar gevolge.

·

Skêre word op skoolterreine gebruik om dagga fyn te knip en dan met sigaret tabak te meng voor dit gerook word. Die skêre (wat so onskuldige stukkie nutsgereedskap is) se lemme word so skerp gemaak, dat jy dit kan gebruik om ‘n mede skolier in ‘n badkamer kan aanhou en ‘n ander se lewe te kan neem. JA dis hoe gevaarlik daardie skêre is…

Asmain ·

Meeste van daardie items lyk vir my soos gewone skryfbehoeftes??? Miskien moet skole n reel maak dat slegs stomp punt skêre toegelaat word

MC ·

Kyk mooi ! dit lyk nie vir my na net skêre nie, ek sien knipmesse en skroewe draaiers?
En sulke skerp punt skêre is net so goed soos ń mes, dit hoort nie by skole nie..

Edd ·

As daai skêre nie snaaks skerp gemaak is nie is dit ‘n klomp snert! Ekt dieselfde soos die blou tipe skêr gebruik tot universiteit. Meeste seuns het ook ‘n knipmes by hulle gehaad, al was dit teen die skool reëls. Jy kan soveel kongiskeer soos jy wil maar dit gan nie die huislike en sosiale omstandighede waar die eintlike probleem lê verander nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

Waar ek op skool was het hulle ons elke oggend deursoek………en as daar geen wapen by jou gekry is nie, het die skool een voorsien!!

Essie ·

Die meeste van die soort wapens wat gevind is is skêre wat reeds benodig word in die skool so dit kan nie as n wapen geklas word nie.

Ben ·

In Delareyville in Noordwes het n leerder nog laas dinsdag sy medeskolier met n skêr dood gesteek. Dit behoort seker as n wapen beskou te word.

ZAR ·

Ek het hierdie laai so bekyk, die sigarette gesien en by myself gedink, so baie het verander, maar party dinge is nog net soos altyd, en ek het met nostalgie geglimlag. Die seuns wat so skelm agter ‘n pawiljoen rook, daai een ongelukkige seun wat elke keer uitgevang word terwyl die ander stink stink soos engeltjies wegloop.
‘n Vuis geveg was gereeld een keer ‘n maand, maar vir die hoof se kantoor (en sy rottang) was almal ewe bang. Die spog van jou hale, deur broek af te trek en te vergelyk, want joune was verseker seerder as die ander se pakslae.
Stout, maar nie lelik stout nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.