Die hooggeregshof in Pietermaritzburg het Donderdagmiddag gehoor die vervolging van die Franse wapenvervaardiger Thales op aanklagte van bedrog moet nié gestaak word nie, omdat die bewyse teen die maatskappy “baie sterk” is.
Adv. Andrew Breitenbach SC, vir die staat, het voor ʼn volbank regters die hof toegespreek. Hy het aan regters Jerome Mnguni, Esther Steyn en Thoba Poyo-Dlwati gesê dat Thales aangekla word van baie ernstige aanklagte, met baie sterk bewyse teen hulle.
“Die aanklagte hou verband met beweerde korrupsie van die tweede mees senior lid van die nasionale uitvoerende gesag [destyds] en hou verband met rampokkery en geldwassery,” het Breitenbach gesê.
Thales word saam met oudpres. Jacob Zuma aangekla op verskeie aanklagte van bedrog en korrupsie wat verband hou met die omstrede wapentransaksie van die 1990’s. Thales het deur dié transaksie ʼn kontrak gekry om gevegstelsels vir die Suid-Afrikaanse vloot te voorsien.
Zuma en Thales het aansoek gedoen om permanente staking van vervolging.
Die staat beweer Zuma het omkoopgeld by Thales ontvang deur sy vriend en voormalige finansiële adviseur, Schabir Shaik, om die maatskappy uit die voortgesette ondersoek na die wapentransaksie te hou en om die maatskappy gunstig te oorweeg vir enige toekomstige kontrakte.
Shaik is in 2005 skuldig bevind op twee aanklagte van korrupsie en een van bedrog in verband met dieselfde saak.
Breitenbach het verder aangevoer in ʼn saak wat so ernstig is soos dié, is daar ʼn eis deur die samelewing dat geregtigheid sal geskied en daarom moet die hof baie meer huiwerig wees om vervolging permanent te staak.
Hy het gesê regverdigheid teenoor die publiek, die publiek se vertroue in die strafregstelsel en die behoefte om die skade wat aan die samelewing en die Grondwet aangerig is aan te spreek, weeg swaarder as Thales se poging om nie verhoor te word nie.

Oudpres. Jacob Zuma by die hooggeregshof in Pietermaritzburg [20 Mei 2019]. (Foto: MotshwarI Mofokeng/ANA)
Zuma en Thales se regspanne het Maandag en Dinsdag hul vertoë gelewer oor hoekom die saak teen hulle permanent laat vaar moet word. Hulle het verskeie redes vir dié versoek aangevoer, onder meer die onredelike vertraging in die saak wat hulle sê ongrondwetlik is.
Adv. Wim Trengrove vir die staat het vanoggend aangevoer Zuma het ʼn konstante patroon van litigasie gebruik wat ontwerp is om uiteindelik die vervolging te laat sloer. Hy meen Zuma kan dus nie nou die vertraging in die saak voorhou as rede om die saak te laat vaar nie.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
10 Kommentare
Sal ek nie ‘n bekende in ‘n oranje oorpak wil sien nie?
Daardie dag koop ek die dop en die vleis
Daar sal niks van kom nie. Die staat en die reg stelsel is kom en een mus. Dis alles net een groot bedrog spul. Mors net nog belasting betalers se geld.
God slaap nie papieeee!
Lerato ek kom ,ek sal die vuurhoutjies bring. Dan suip ons lekker saam en los al die land se probleme op
En die “eis deur die samelewing” teen die Guptas en Shabir Shaik ens. Gaan daar iets van kom?