Wapenskandaal: Brief oor ‘politieke inmenging’ voor hof gebring

Oudpres. Jacob Zuma op 24 Mei 2019 in die hooggeregshof in Pietermaritzburg. (Foto: Motshwari Mofokeng/ANA)

Oudpres. Jacob Zuma se regspan het probeer om ʼn brief voor die hof te bring om te bewys dat politieke inmenging ʼn rol gespeel het in die korrupsieaanklagte teen die voormalige president, maar die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het vanoggend dié brief as irrelevant afgemaak.

Zuma se regspan beweer dié brief bewys politieke inmenging staan sentraal in die aanklagte van bedrog, korrupsie en rampokkery wat Zuma in die gesig staar. Zuma word aangekla saam met die Franse wapenvervaardiger, Thales.

Die voormalige president hou vol sedertdien hy ʼn dekade gelede aangekla is, het die staat probeer om hom te vervolg om hom daarvan te weerhou om ANC-president en gevolglik staatspresident te word. Voormalige pres. Thabo Mbeki en verskeie ander rolspelers in staatsinstansies was volgens Zuma betrokke by dié beweerde komplot.

Toe die saak vanoggend hervat is, het adv. Wim Trengove, vir die staat, gesê die brief was ʼn interne dokument tussen die NVG en die Valke. “Dit is onderhewig aan litigasie-privilegie en is moontlik onwettig aan die aansoekers verskaf,” het Trengove gesê.

“[Zuma se regspan] het nie aan ons vertel by wie of hoe hulle die brief gekry het nie. Dit het skynbaar óf van die Valke óf van die NVG gekom. Dit is vertroulik. Dit is in elk geval irrelevant ten opsigte van mnr. Zuma se vervolging, want dit hou verband met [Thales] se saak.”

Muzi Sikhakhane, Zuma se regsverteenwoordiger, het vroeër aan die hof gesê die brief moet as bewysstuk toegelaat word, omdat die staat voortgaan om politieke inmenging in die saak te ontken, maar, soos duidelik uit die brief, het hy steeds die moontlikheid hiervan in 2018 ondersoek.

Trengove het gesê die brief is gegrond op ʼn verklaring deur Ajay Sooklal, voormalige regsverteenwoordiger vir Thales, en dié verklaring is al jare lank in die openbare domein.

Advokate Muzi Sikhakhane, Wim Trengove en Anton Katz by die hooggeregshof in Pietermaritzburg. (Foto: Doctor Ngcobo/ANA)

“Die Sooklal-verklaring is afgelê vir doeleindes van ʼn hofsaak. Dit is ʼn verklaring wat afgelê is in ʼn saak waar Zuma ʼn litigant was. Die verklaring is in 2016 afgelê en was toe al aan Zuma beskikbaar.

“Die Zuma-kamp is al sedert 2016 in besit van die verklaring en vir hierdie saak, sedert verlede jaar. Vir hulle om nou aan te voer hierdie dokument moet op die nipper toegelaat word, is nie geregverdig nie. Ek versoek dat die aansoek met koste van die hand gewys word,” het Trengove gesê.

Sikhakhane het gesê hy gaan voort met sy aansoek om die brief as bewysstuk toegelaat te kry.

Thales word saam met oudpres. Jacob Zuma aangekla op verskeie aanklagte van bedrog en korrupsie wat verband hou met die omstrede wapentransaksie van die 1990’s. Thales het deur dié transaksie ʼn kontrak gekry om gevegstelsels vir die Suid-Afrikaanse vloot te voorsien.

Die staat beweer Zuma het omkoopgeld by Thales ontvang deur sy vriend en voormalige finansiële adviseur, Schabir Shaik, om die maatskappy uit die voortgesette ondersoek na die wapentransaksie te hou en om die maatskappy gunstig te oorweeg vir enige toekomstige kontrakte.

Zuma en Thales het aansoek gedoen om permanente staking van vervolging. Die staat asook Zuma en Thales se regspanne het vandeesweek voor ʼn volbank regters hul vertoë oor dié aansoek gerig.

Uitspraak is voorbehou en sal na verwagting binne die volgende drie maande gelewer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Genieve ·

Vir 14jr was dit nooit politieke inmenging nie ds reg jy moet dieselfde behandel word as die ander skelms.

Dries du Toit ·

Dis reg vat hom Flaffie. Skeer sy broek en gee hom n oranje oorpak in ruil vir daai broek. Nie n nuwe een nie sommer n ou verslete een

Naas ·

Klink my die Zuma-manne raak nou desperaat. Gryp na strooihalms.

ne ·

zuma en kie word nou in die bek geruk. Nou kan hy maar he=he=he tot hy self besef dis nie ‘n grap nie/

Charlie ·

Vermoed agteraf gekonkel met gemanipuleerde getuienis dmv vals dokumente

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.