Wapenskandaal: ‘Zuma het self saak laat sloer’

Oudpres. Jacob Zuma tydens ‘n vorige verskyning in die hof. Foto: ANA

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het Donderdag aan die hooggeregshof in Pietermaritzburg uiteengesit hoe hy meen oudpres. Jacob Zuma uitgebreide litigasie, bekend as Stalingrad-verdediging, gebruik het om sy vervolging op aanklagte van bedrog en korrupsie te vertraag.

Adv. Wim Trengrove vir die staat het aangevoer Zuma het ʼn konstante patroon van litigasie gebruik wat ontwerp is om uiteindelik die vervolging te laat sloer.

“Die litigasie het voortgesleep vir byna 14 jaar sonder onderbreking, behalwe vir een maand. Hy het al daardie sake verloor,” het Trengrove gesê.

Hy het daarop gewys dat dié litigasie met die belastingbetalers se geld gefinansier is en tussen R16 miljoen en R32 miljoen gekos het – “’n luukse litigasie ontwerp om te vertraag”.

Zuma was vanoggend weer in die hooggeregshof waar hy saam met die Franse wapenvervaardiger, Thales, teregstaan op verskeie aanklagte van bedrog en korrupsie wat verband hou met die omstrede wapentransaksie van die 1990’s.

Zuma en Thales se regspanne het Maandag en Dinsdag hul vertoë gelewer oor hoekom die saak teen hulle permanent laat vaar moet word. Hulle het verskeie redes vir dié versoek aangevoer, onder meer die onredelike vertraging in die saak wat hulle sê ongrondwetlik is.

Toe regter Thoba Poyo-Dlwati vir Trengrove vra of Zuma dan nie geregtig was om appèl aan te teken teen hofverrigtinge nie, het Trengrove erken Zuma was heeltemal geregtig om dit te doen. “Maar moet dan nie nou kom kla oor die saak vertraag is deur hierdie dispute nie,” het Trengrove gesê.

Poyo-Dlwati en Trengrove het ook saamgestem dat Zuma se dispute meestal in laer howe suksesvol was, maar dat die uitsprake dan weer omgekeer is wanneer dit voor hoër howe gekom het.

Hoewel ondersoeke na die wapenskandaal reeds in die vroeë 2000’s begin is, is Zuma in Junie 2015 vir die eerste keer aangekla ná die skuldigbevinding van sy voormalige finansiële adviseur, Schabir Shaik, op twee aanklagte van korrupsie en een van bedrog.

Shaik is skuldig bevind en gevonnis omdat hy gereelde korrupte betalings aan Zuma tussen 1995 en 2002 gemaak het. Sommige van hierdie betalings is glo deur Thales gemaak om die maatskappy uit die voortgesette ondersoek na die wapentransaksie te hou en om die maatskappy gunstig te oorweeg vir enige toekomstige kontrakte.

Oudpres. Jacob Zuma buite die hooggeregshof in Pietermaritzburg. (Foto: MotshwarI Mofokeng/ANA)

Die NVG het die geleentheid gehad om Zuma in 2014 saam met Shaik te vervolg, maar het besluit om dit nié te doen nie, hoewel die staat gesê het hy het ʼn prima facie‑saak teen Zuma.

Bulelani Ngcuka, die destydse NVG-hoof, het gesê hy glo nie daar is ʼn redelike moontlikheid dat die NVG die saak sal wen nie, ten spyte daarvan dat een van die hoofaanklaers, adv. Billy Downer, die teenoorgestelde gevoel het.

Downer sal aankla tydens die verhoor – wat na verwagting later vanjaar sal plaasvind – indien die hof dié week in die staat se guns beslis.

Daar is in 2005 en weer in 2007 besluit om Zuma wel te vervolg, onder ander NVG-hoofde, maar die aanklagte is wéér in 2009 teruggetrek nadat Zuma vertoë gerig het oor die sogenoemde “spioenbande”. Dit verwys na bandopnames van gesprekke tussen Ngcuka en Leonard McCarthy, voormalige baas van die destydse Skerpioene wat georganiseerde misdaad en korrupsie ondersoek het.

Die gesprekke, wat plaasgevind het nadat Ngcuka bedank het, het gegaan oor die tydsberekening van die aanklagte teen Zuma. Dit is beweer dat dit neergekom het op politieke inmenging aangesien Zuma destyds in die stryd om leierskap van die ANC was teen voormalige president Thabo Mbeki.

Trengrove het Donderdag gesê daar is geen bewyse van politieke inmenging nie en dat samesweringsteorieë nie voldoende is om vervolging te staak nie. Hy het die hof daarop gewys dat wanneer ʼn aansoek om permanente staking van vervolging gebring word, moet ʼn balans gevind word tussen die regte van die beskuldigdes, die publiek en of so ʼn besluit in die belang van geregtigheid sal wees. Die motief vir die vervolging is, volgens hom, irrelevant.

“Daar is ʼn groot openbare belang om te sien dat hierdie saak vervolg word,” het Trengrove gesê. Dit is belangrik dat die publiek sien Zuma word gelyk behandel in die oë van die gereg ondanks sy hoë openbare profiel, het hy gesê.

Die NVG het vanmiddag sy vertoë voortgesit, waarna Thales se aansoek in groter detail aangehoor sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Alida ·

Zuma het mos self gese NIEMAND is verhewe bo die reg nie. Laat hom sit vir baie lank en ‘n voorbeeld stel vir al die ander skelms wat nog rondloop.

Ferdi ·

Groot Zuma het altyd geroep hy soek sy dag in die hof. Nou veg hy om nie sy dag in die hof te kry nie.

Boerboel ·

Stem saam Ferdi, hoe se hulle: n’ Jakkels verander van haar maar nie van snaar!
Afrikaans is darem n’ mooi taal !

DANIE ·

Laat hom boet vir AL sy sondes. Hy is ‘n onbeskaamde krimineel en die publiek is lankal keelvol vir sy twak!

fred ·

die regskoste is nou tussen 16 miljoen en 32 miljoen Rand,,betaal deur jou en my……en dit is nog nie die einde nie…skande….en die korrupte amptenare wat dit al die jare toe gelaat het lewe nog altyd n luukse lewe…..

Joubert ·

Al sny jy nou sy kop af en begrawe hom, dit kan nie die skade herstel wat hy hierdie land en sy mense reeds aangedoen het nie.

Die probleem is dat ‘n klein handjie vol korrupte politikuste keer na keer bemagtig word om die helfte van my en jou hardverdiende inkomste by ons weg te vat, en in meeste gevalle dit nog teen ons te gebruik ook.

En keer op keer word die volgendes maar net weer ingestem. Die enigste oplossing is die politieke stelsel moet val. Ons kort ‘n revolusie.

humor ·

Danie net in n paar woorde het jy hom nou wragtig reg gese.

Hans ·

My alla mapstieks, is hy nie die een wat gesê hy sien uit na sy dag in die hof nie?

shark ·

Jip, sy danspassies en giggels is verby, kyk hoe pateties lyk hy nou in hof..

MW ·

Sal onaantasbaar bly. By die tyd dat hy “dalk” ‘n vonnis moet uitdien gaan hy te sieklik wees of land uit, hou dop. Jy het ons geld geëet maat, wanneer is dit pay back time ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.