Wapentransaksie: Hof stel bevindinge ter syde

Foto: Brenda Masilela/ANA

Die hooggeregshof in Pretoria het Woensdag die bevindinge van die Seriti-kommissie se verslag na die sogenaamde multimiljoenrand-wapenskandaal ter syde gestel.

Corruption Watch en die Right2Know-veldtog het die hof versoek om die kommissie, onder leiding van regter Willie Seriti, se bevindings ter syde te stel. Die organisasies het aangevoer dat Seriti die publiek mislei het deur politici en staatsamptenare van enige blaam te onthef.

Regterpresident Dunstan Mlambo het in sy uitspraak onder meer gesê dit lyk asof die kommissie verklarings van diegene wat van korrupsie beskuldig is as feite beskou het, terwyl die verklarings van kritici van die wapentransaksie bloot as aantygings beskou is.

Daar is bevind dat die ondersoek wat die kommissie gevra is om uit te voer, nooit gerealiseer het nie.

Die kommissie se ondersoek het belastingbetalers meer as R137 miljoen uit die sak gejaag.

Die Seriti-kommissie se verslag is in April 2016 deur oudpres. Jacob Zuma bekend gemaak nadat hy dit reeds in Desember 2015 ontvang het.

Die kommissie het in sy verslag aangevoer dit sal nutteloos wees om verdere bewyse te soek wat tot strafregtelike klagte sal lei. Zuma het destyds ook benadruk die ondersoek kon geen bewyse vind dat enige senior politici in die regering destyds omgekoop of onbehoorlik beïnvloed is in die keuse van voorkeurbieërs om vegvliegtuie, fregatte, duikbote en vegvliegtuie aan Suid-Afrika te verskaf nie.

Die kommissie het verder aangevoer dit is onwaarskynlik dat enigiemand enige bewyse van ʼn misdaad sal vind, weens die tyd wat reeds verloop het sedert die verkrygingsproses en aangesien die destydse Skerpioene en ook die Valke daarna geen bewyse kon vind nie.

“Soortgelyke ondersoeke is ook in die Verenigde Koninkryk, Frankryk, Duitsland, Swede en Switserland gedoen en al die sake is reeds jare gelede gesluit, sonder dat strafregtelike klagtes teen enigiemand ingestel is,” het die kommissie se verslag gelui.

Opposisiepartye en verskeie organisasies het die kommissie se verslag as ʼn klug en vermorsing van belastingbetalers se geld bestempel.

Zuma het die kommissie op 24 Oktober 2011 aangestel onder leiding van regter Willie Seriti ná bewerings van onbehoorlike invloed in die wapentransaksies. Die kommissie is aanvanklik twee jaar gegun en het R40 miljoen gekry om sy ondersoek te voltooi. Die ondersoek het egter langer as vier jaar geduur.

Die regering het onder andere in 1999 tydens die multi-miljardrand-aanskaffingstransaksie 26 Gripen-vegvliegtuie en 24 Hawk-vegvliegtuie vir die lugmag, en fregatte en duikbote vir die vloot aangekoop.

Zuma staan intussen tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie en rampokkery saam met die Franse wapenvervaardiger, Thales, wat verband hou met die omstrede wapentransaksie van die 1990’s. Thales het deur dié transaksie ʼn kontrak gekry om gevegstelsels vir die Suid-Afrikaanse vloot te voorsien.

Die staat beweer Zuma het omkoopgeld by Thales ontvang deur sy vriend en voormalige finansiële adviseur, Schabir Shaik, om die maatskappy uit die voortgesette ondersoek na die wapentransaksie te hou en om die maatskappy gunstig te oorweeg vir enige toekomstige kontrakte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Johan ·

Shaik is destyds skuldig bevind. Maar hy was beslis nie die enigste skuldige nie

Swannie ·

Dit sê my ook baie van die regter se integriteit. Dus, al die miljoene is vermors deur `n regter wat onbevoeg was om sy werk te doen, ,maar hyself het `n hengse salaris gekry.

Laat my ook wonder of al sy uitsprake in die hof in dieselfde trant geskied het as sy bevindings oor die Wapenskandaal ?

Jerry ·

En nog is dit einde niet! Wie ookal met hierdie saak laaste gaan lag, gaan die lekkerste lag!

Cicero ·

Seriti het regtig sy naam met ‘n plank geslaan, karakter-selfmoord én professionele-selfmoord gepleeg.

Barries ·

Hou sommer vir Seriti verantwoordelik vir ‘n gedeelte van die kostes van die kommissie.

Gert ·

Nou moet die hof gevra word om te beveel dat Sereti, net soos wat onlangs met die Openbare Beskermer gebeur het, in sy persoonlike hoedanigheid vir ‘n deel van die koste van sy ondersoek verantwoordelik gehou moet word.

Buffel ·

Dit gaan interessant wees as Zuma alles op die tafel gooi van wie nog geldjies vir wapens gekry het. Van saint Mandela tot die huidige spul. Die ANC se skelmstreke is nie van gister af nie.

shark ·

he he he he..niemand sal enige iets uit Zumpie kry nie, al wat hy se is hy het vergeet.

Koos de Meyer. ·

Daar was alreeds voor die lug skou besluit wat se vliegtuie gekoop gaan word. Die Sweed het die Sondag vír ons gesê ons gaan Gripens koop.

koos1 ·

Dit was die begin van staatskaping. Ons wag nog vir die einde.

Arendoog ·

Dit neem ‘n minimum van twee om omkoop bedrog te pleeg. As Saik die een was is die ander een seker die onverantwoordbare onsigbare meneer Z.

Speedguard ·

Nou gaan hulle nog ‘n kommissie aanstel om die Sireti kommissie te onsdersoek vir nog 150Bar, een van die dae is al die regtwers voorsitters en die advokate vlieg die choppers !!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.