Vier mense is dood en agt is beseer nadat ʼn minibustaxi Maandagaand op die N3-snelweg naby Warden gebots het.
Santi Steinmann, ʼn woordvoerder van Netcare 911, het gesê die ongeluk het in ʼn noordelike rigting op die snelweg plaasgevind. “Die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor en dit het omgeslaan,” het Steinmann gesê.
Vier mense was reeds dood toe paramedici by die toneel opdaag. “Die ander agt se beserings wissel van ernstig tot kritiek. Hulle is op die toneel gestabiliseer en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.
Intussen het die Padverkeerbestuurskorporasie aangekondig dat daar teen Sondag minstens 103 mense tydens die Paasnaweek op die land se paaie dood is. Die korporasie sal later, sodra Sondag en Maandag se ongelukstatistiek versamel is, opgedateerde inligting bekendmaak.