Ware liefde deur dik en dun

Mareli du Plooy en Herman Louw. Foto: Verskaf

Mareli du Plooy en Herman Louw. Foto: Verskaf

Mareli du Plooy, ʼn 29-jarige enkelma van Wesselsbron in die Vrystaat, se lewe het op 9 Augustus verlede jaar handomkeer verander en haar ʼn kwadrupleeg gelaat. Tog staan haar kêrel, Herman Louw (37), haar deur dik en dun by en hoop die verliefde paartjie om binnekort die knoop deur te hak.

Du Plooy was verlede jaar op ʼn seevakansie by Umhlanga in KwaZulu-Natal toe sy in ʼn kwessie van 24 uur heeltemal verlam geword het. “My lewe was perfek. Ek het op die strand gestaan en God geprys vir my geseënde lewe, onwetend dat ek ʼn dag daarna van kop tot tone verlam sou wees,” het sy Maandag aan Maroela Media gesê.

Sy het gesê daardie aand het haar bene begin lam voel en omstreeks 02:00 die volgende oggend toe sy badkamer toe wou gaan, kon haar bene nie haar gewig dra nie en het sy geval toe sy uit die bed probeer opstaan het. Sy is na ʼn hospitaal gehaas waar sy verder verlam geword het.

“Ek is gediagnoseer met Guillain Barre-sindroom. My longspiere is ook verlam en ek moes vir drie maande aan ʼn ventilator gekoppel word waartydens ek glad nie kon praat of kontak met my kind, Elizabeth, hê nie.”

Haar ouers en Louw het gedurende dié tydperk beurte gemaak om al om die uur by haar bed te waak. Sy is uiteindelik later, toe sy sterker geword het, oorgeplaas na ʼn hospitaal in Bloemfontein om nader aan haar ouerhuis in Wesselsbron te wees waar sy aansterk met die hoop op ʼn volkome herstel.

“God het my ʼn tweede kans gegee. Hoewel ek steeds verlam is, het ek al tonne verbeter en kan ek darem al sit. Die pad na herstel neem maar lank,” het sy gesê.

Du Plooy en Elizabeth woon naby haar ouers, wat albei moet werk om vir die duur mediese onkoste te betaal. Sy kom bedags oor die weg met die hulp van ʼn versorger wat haar onder meer moet bad en voer aangesien sy steeds niks vir haarself kan doen nie. Sy kry ook twee keer per dag terapie. Die res van die dag bestee sy tyd saam met haar kind en kan sy op ʼn rekenaar werk deur met ʼn pen in haar mond op die sleutelbord te tik.

Naweke is haar hoogtepunt wanneer Louw vir haar kom kuier, aangesien hy deur die week in Bloemfontein werk.

Sy het hom drie jaar gelede deur ʼn gemeenskaplike vriendin ontmoet.

“Deur hierdie moeilike tyd het Herman 24/7 by my gestaan en hy doen dit steeds. Hy het goed deurgegaan en gedoen wat ek nie my grootste vyand toewens nie. Hy verdien net die beste. Hy is ʼn sterk mens, vol vertroue, lojaal en glad nie selfsugtig nie. Hy is baie liefdevol en hardwerkend. Hy het ʼn goeie hart en hy gaan uit sy pad om mense te help. Hy verdien net die beste,” het sy bygevoeg.

Du Plooy het gesê hulle wil baie graag trou en sy oefen hard om eendag met haar troue self in die paadjie af te stap saam met haar pa.

“Geld word tans bestee aan mediese onkoste, terapie en versorgings omdat ek niks vir myself of my dogtertjie kan doen nie. Ek droom van ʼn romantiese sprokiestroue. ʼn Lekker groot een saam met ons familie en vriende,” het sy gesê.

Die paartjie het ingeskryf vir ’n kompetisie waarin hulle ʼn troue, wittebrood en motor kan wen. Die kompetisie werk met stemme en die twee kort nog ʼn paar stemme voor Dinsdagmiddag om na die vyf top-kandidate deur te dring.

Du Plooy kan nie vir lank regop sit nie, maar as tyd en haar gesondheid dit toelaat, bemark sy met ʼn pen in haar mond ʼn storm los op sosiale media in ʼn poging om daai droomtroue te wen. Klik hier om vir die paartjie te stem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nick Kotze ·

Ek het ook driejaar gelede(09-01-2011) die siekte Gileam Barr’e opgedoen. Ek sit nog steeds in ‘n rolstoel en het met die hulp van my dogter Elmarie ‘n boek oor my wedevaringe en dit wat ek beleef het toe GOD my drie keer weer teruggebring het uit die dood geskryf. Ek sal graag my boek ‘GRATIS” Hier wil plaas, sodat almal kan sien dat ons HERE waarlik leef.
Hoor graag van julle.
Nick Kotze.

Zenobia ·

My dogter het 4 jaar gelede ook Guillain Barre-sindroom gekry. Sy sal graag self vir Mareli wil kontak om haar te ondersteun en miskien moed te gee vir die toekoms. my e-pos adres is [email protected]

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.