‘Ware vryheid’ binne bereik

Pres. Cyril Ramaphosa lewer ‘n toesprak tydens die Vryheidsdagvieringe by die Uniegebou. (Foto: GCIS)

Op die 30ste herdenking van die eerste demokratiese verkiesing in 1994 het verskeie politieke partye by Suid-Afrikaners gepleit om vanjaar opnuut hul kruisies te trek agter ʼn party wat wérklik aan Suid-Afrikaners vryheid sal bied.

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy toespraak by die Uniegebou Saterdag oudergewoonte gehamer op die onregte van apartheid en hoe die ANC – en meer spesifiek Nelson Mandela – onverpoos vir swart mense se vryheid baklei het. Hy het ook voortgeborduur op die vordering wat die ANC die afgelope 30 jaar gemaak het. Oudpres. Thabo Mbeki het ook die verrigtinge bygewoon.

“Die vordering wat ons die afgelope 30 jaar gemaak het, is werklik iets om op trots te wees. Dit is net dié wat moedswillig nie wíl sien nie, wat hul oë toemaak vir vooruitgang, wat ontken dat Suid-Afrika vandag beslis ʼn beter plek is as 30 jaar gelede,” het Ramaphosa gesê.

Hy beweer die Suid-Afrikaanse ekonomie het die afgelope 30 jaar “verdriedubbel in grootte, ondanks uitdagings hier op tuisbodem en anderkant die landsgrense”. Hy het daarop gewys dat die getal Suid-Afrikaners wat werk het van agt miljoen in 1994 tot 16,7 miljoen vanjaar toegeneem het. Hy het egter nagelaat om te sê dat die bevolking met nagenoeg 17 miljoen mense toegeneem het, wat beteken ʼn kleiner persentasie van die bevolking het nou werk as in 1994. Toe het net 20% van die bevolking nie werk gehad nie, teenoor meer as 40% van die bevolking wat tans werkloos is.

Ramaphosa het verder gegaan om te sê die regering het in 30 jaar nuwe skole gebou en skole tot stand gebring wat nie skoolgeld hef nie. Ook hier het Ramaphosa nie genoem dat Suid-Afrika, volgens die jongste navorsing oor wêreldwye leesgeletterdheid (PIRLS 2021), van die swakste lesers ter wêreld is nie. Agt uit tien van hierdie leerders (81%) kan nie met begrip lees nie.

“Ons weet dat, ten spyte van ons oorwinnings, Suid-Afrika steeds ʼn baie ongelyke gemeenskap is. Ons mense moet elke dag die apartheid-nalatenskap van werkloosheid, armoede en onderontwikkeldheid konfronteer,” het Ramaphosa voortgegaan.

“Misdaad, en veral misdaad teen vroue en kinders, is ʼn plaag in ons gemeenskappe en daar is groot verdeeldheid tussen ryk en arm.”

Oudpres. Thabo Mbeki het die vieringe by die Uniegebou bygewoon. (Foto: GCIS)

Ander politieke partye is minder opgewonde oor die “vordering” wat die ANC sedert 1994 gemaak het.

“Ná drie dekades waarin ʼn onbevoegde regering Suid-Afrikaners se regte en vryhede stelselmatig afgetakel het, is ware vryheid eindelik in sig met die verkiesing op 29 Mei,” sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

“Met die ANC se steun aan’t taan, is dit belangriker as ooit tevore vir elke stemgeregtigde mens om sy stem te gebruik om Suid-Afrika te red. Wegblyers moet besef dat dit juis hul stil stem is wat die ANC vir nog ʼn termyn aan bewind kan hou.

“Dit kan nie bekostig word nie. Nog ʼn termyn onder die ANC sal die land vernietig. Vryheid raak toenemend op elke gebied weggekalwe en die ekonomie raak daagliks swakker.”

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, stem saam. Hy het Saterdag namens die DA gesê Suid-Afrikaners ervaar ongelooflike uitdagings, met die werkloosheidskoers wat die hoogste nóg is, deurlopende kragonderbrekings en toenemende vlakke van geweldsmisdaad.

“Wat help dit Suid-Afrikaners is vry as so baie van hulle nie werk of waardigheid het nie?”

Hy het ook gesê Suid-Afrikaners, wat soveel hoop in 1994 gehad het, is teleurgesteld en ontnugter.

Ook Herman Mashaba, leier van Action SA, het gesê Suid-Afrikaners kan net werklik vry wees as die regering werk skep en ʼn einde aan misdaad bring. “Dit kan net gebeur as ons die regerende party tydens die komende verkiesing uit die kussings lig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.