Warmer, droër El Niño-weer op pad

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die wêreld het die afgelope drie somerseisoene ʼn uitsonderlike lang tydperk van relatiewe lae temperature en goeie reënval in verskeie gebiede beleef.

Kenners meen dat La Niña, die weerstelsel wat verantwoordelik is hiervoor, egter binnekort vervang sal word deur die warmer en droër El Niño, die einste stelsel wat Suid-Afrika ʼn paar jaar gelede in ʼn droogtewurggreep gehad het.

Dit beteken dat dele van Suid-Afrika weer uitermatige temperature, hittegolwe en selfs droogtes kan hê.

Prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia, sê die meeste voorspellings dui daarop dat ons ʼn El Niño-weerstelsel te wagte kan wees in die volgende somerseisoen.

“Hierdie somer se La Niña sal teen die laatwinter van 2023 begin verswak, waarna toestande teen die aanvang van die volgende somer in Oktober sal oorbeweeg na ʼn El Niño,” sê hy.

Hoewel albei weerstelsels tot ʼn jaar vooruit voorspel kan word, is dit nog nie duidelik of die komende El Niño tot die somer van die daaropvolgende jare sal voortduur nie.

Rautenbach sê dit is welbekend dat El Niño die risiko vir droë toestande oor die sentrale en oostelike dele van Suid-Afrika kan verhoog. “Die droër toestande gee normaalweg ook aanleiding tot hoër temperature, en daarom ʼn warmer somer.”

Tot hoe hoog die wêreld se gemiddelde temperature sal styg, is nog vir talle kenners ʼn raaisel, maar vroeër voorspellings dui daarop dat El Niño wel die temperatuur met ʼn graad of twee sal opstoot, berig The Guardian.

Kommer heers nou oor wat die uitwerking van die komende El Niño op die wêreld sal hê, veral nadat gebiede soos Suid-Afrika in 2016 ʼn reeks droogtetydperke en uitermatige warm toestande deurgemaak het.

Rautenbach sê egter daar is nog geen aanduiding dat klimaatsverandering, oftewel aardverwarming, ʼn invloed op die sterkte van beide El Niño of La Niña het nie.

“Wat wel waar is, is dat die aarde se gemiddelde temperatuur toeneem in El Niño-jare, wat beteken dat die impak van klimaatsverandering (aardverwarming) meer gevoel kan word terwyl El Niño heers. Die aarde se temperatuur mag dus moontlik volgende jaar styg.”

Flikker gevaarligte?

Rautenbach verduidelik dat El Niño en La Niña beide ʼn interaktiewe stelsel is wat deur seewater- en weerveranderinge herken kan word. Die veranderinge vind in die Stille Oseaan langs die ewenaar plaas.

“Tydens El Niño word die seewater teen die weskus van Suid-Amerika warmer, terwyl die seewater teen die ooskus van Australië kouer word. Die teenoorgestelde gebeur met La Niña. Die verskil in seewatertemperature veroorsaak dat die lug bokant die see ʼn sekere sirkulasiepatroon aanneem. Die sirkulasiepatroon beïnvloed nie net die weer bokant die Stille Oseaan nie, maar ook weerstelsels oor die hele wêreld,” sê hy.

Omdat dié werverskynsels ʼn beduidende impak het op hoe die wêreld se weerpatrone lyk, maan Rautenbach dat boere regoor die wêreld hulle moet staal vir ekstreme toestande.

“ʼn El Niño-stelsel hou maar altyd ʼn risiko vir die landbou in, veral vir graan-, groente- en vrugteboere,” sê hy.

“Maar soos met enige droër tydperk is dit belangrik dat boere deeglik beplan om risiko’s te beperk, en ook op ʼn gereelde basis die kortertermynweervoorspellings dop te hou soos wat die volgende somer vorder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Joe Olivier ·

Intussen wag ons nog hier in Pretoria vir die hoë reënval wat vir Des en Jan voorspel was deur die slim manne

Parmantige samaritaan ·

Kamstig bo gemiddelde reënval tot einde Maart voorspel. Ek dink hierxie voorspellers moet maar hulle kursus herhaal, want dit lyk nie of hulle veel geleer het nie.

Nie Verbaas ·

Korrek. Ons “kundiges” het ons in 2022 vertel van die nat seisoen vir 2023. Nou hoe kundig is ons kundiges werklik? Ons kan net wonder.

MARELIZE ·

Ek weet dat mense nie die weer beheer, bestel of maak nie, maar joe … ons kan nie so gou weer ‘n droogtsiklus hanteer nie. Ons het maar een nat jaar gehad.

Goldy ·

Die droegtetyd het klaar begin. Daars sekere dele van somerreenvwlstreke wat nogsteeds bittermin reen gehad het, en die vrystaat, noordwes en gauteng se goeie begin van die reenseisoen het skielik gestop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.