Wat gaan Ramaphosa oor Brics doen?

President Cyril Ramaphosa. Foto: Siyabulela Duda, departement van kommunikasie

Ekonome sê dit is onwaarskynlik dat die regering van pres. Cyril Ramaphosa die land se rol in die Brics-lande kan hersien.

Suid-Afrika het in 2010 by Brics aangesluit, wat as ʼn hoogtepunt vir die vorige Zuma-administrasie beskou kan word. Die ander lidlande is Brasilië, Rusland, Indië en China.

Mike Schussler, hoofekonoom by economists.co.za, sê ondanks die nadele wat Brics-lidmaatskap vir Suid-Afrika inhou, is daar egter voordele waarby die land baat vind.

Hy wys daarop dat die Brics-groep tans die tweede grootste ekonomie ter wêreld is, en dat China en Indië sterk ekonomiese groei toon. Hy meen dat die opskorting van enige kernooreenkoms met Rusland nie juis betrekkinge negatief sal beïnvloed nie.

Schussler sê dat die negatiewe rol wat Brics op die land het, veral die vervaardigingsektor verlam.

“Invoere van veral China en Indië neem toe. Behalwe die geleenthede wat vir die vervaardigingsektor verlore gaan, is daar ook kwaai werksverliese,” sê hy.

Schussler wys daarop dat China en Indië wel vir Suid-Afrika die geleenthede bied om kommoditeite soos ystererts, steenkool en platinum uit te voer. Maar hy is van mening dat dit wel ʼn groot wanbalans in die handelsyfers tussen die lande onder die vergrootglas plaas.

Suid-Afrika sal vanjaar die jaarlikse Brics-beraad aanbied – die tweede keer dat die land as gasheer optree.

Dr. Jakkie Cilliers, sekuriteitskenner en voorsitter van die Instituut vir Sekerheidstudies se raad van trustees, het vroeër op ʼn buitelandse nuusprogram gesê dat Brics nog steeds ʼn aktiewe rol sal speel in ontluikende ekonomieë. Hy sê ook dat die Brics-lande ʼn aktiewe rol kan speel by die G7- en G20-groeperinge. Die G7 sluit die wêreld se top ekonomieë in, terwyl Suid-Afrika deel van die G20 is.

Cilliers wys daarop dat die Brics-lande se bydrae tot die wêreldekonomie in 2017 23,6% was. Volgens IMF-beramings kan dié syfer tot 26,8% in 2022 styg.

Dawie Roodt, hoofekonoom by die Efficient Groep, sê Ramaphosa staan nie juis sterk om enige drastiese besluit rondom Brics te neem nie. Hy voeg by dat Ramaphosa waarskynlik nie steun van Cosatu en die SAKP sal kry vir enige skuif nie.

Roodt erken dat Brics eintlik ʼn tweesnyende swaard vir Suid-Afrika is.

“Terwyl hy toegang tot twee van die wêreld se grootste markte het vir sy uitvoere, knou dit geleenthede plaaslik. En om ons ekonomie aan die gang te kry, het ons beleggings in die vervaardigingsektor nodig,” sê hy.

Roodt sê een voorbeeld van die wanbalans is die invoer van lokomotiewe vir Transnet uit China. “Suid-Afrika het die tegnologie gehad om dit self te vervaardig en ons het toegelaat dat dit as bedryf kwyn,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marous ·

Om van ‘n rommelhoop ‘n paradys te maak verg werk , en dit is ‘n vloekwoord in die land. Die Ooste het al die reserwes in Afrika opgekoop vir ‘n paar mense se siele en ‘n teerpad hier en daar , en gaan die krane afdraai.

Alida ·

Ja Dawie alles het onder Zuma se bewind gekwyn. Gee tog raad hoe om dit reg te maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.