Wat hou die toekoms in vir die klas van 2031?

Foto: Hennie Stander/Unsplash.com

In 2005 het 1,2 miljoen gr. 1-leerders hulle vir die nuwe skoolloopbaan aangemeld, maar 12 jaar later kon net 55 000 van hierdie groep leerders daarin slaag om ʼn wiskundepunt van 50% of meer in matriek te behaal.

Hermann Pretorius van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) sê in sy jongste verslag oor die toekoms van onderwys in Suid-Afrika dat daar dringende vrae gevra moet word oor wat van hierdie kinders word.

Die verslag getiteld “Onder die skoolbus ingegooi” het na die toekoms van die gr. 1-klas van 2020 en na Gauteng se onderwystendense as ʼn rigtingwyser gekyk. Dit ondersoek ernstige tekortkominge in die onderwys in die provinsie en stel ook voor hoe dit doeltreffend aangepak kan word.

Pretorius meen ʼn mens kan met reg ook verder vra wat word van ʼn ekonomie waar tussen 22% en 25% van werknemers afhanklik is van werksgeleenthede in die finansiële bedryf as die slaagsyfer vir wiskunde so laag is?

“Ons kan nie toelaat dat dieselfde gebeur met die sowat 1,4 miljoen graadeentjies wat op 15 Januarie hulle skoolloopbaan begin nie.

“Die lot van hierdie klasgroep kinders wat in 2020 hulle skoolloopbaan begin, berus op die gehalte van die onderwys wat hulle oor die volgende 12 jaar ontvang. Dit word grootliks bepaal deur die aard en gehalte van die skoolstelsel self,” sê Pretorius.

Die matriekslaagsyfer van 2019 wat 81,3% was, is die hoogste in die geskiedenis van Suid-Afrika ná 1994, maar Pretorius meen dit vertel slegs ʼn gedeelte van die verhaal van onderwys in die land.

Pretorius sê die SAIRV is veral bekommerd oor die hoë syfer van leerders wat by die stelsel uitval en nooit matriek skryf nie.

Die bevolking van Gauteng het in 2009 van 11 miljoen na 14,5 miljoen in 2018 gegroei, maar die aantal gr. 11-leerders wat oorgaan na gr. 12 word nie meer nie.

“Mens kan nie help om te wonder hoekom daar sodanige uitval is nie, om dan nie eens te praat van die breër uitval van gr. 1 na gr. 12 nie.

“Verder is daar ook veel minder leerders uit voorheen benadeelde agtergrond wat met vrystelling slaag om ʼn baccalaureus-graad te studeer.”

Pretorius meen hierdie probleme spruit uit sake soos kaderontplooiing, korrupsie en verkwistende uitgawes in die onderwysdepartement.

Die SAIRV het na die Gautengse onderwysdepartement gekyk, wat as die spreekwoordelike kanarie in die steenkoolmyn optree vir hoe die toekoms van onderwys onder ANC-beleid lyk.

“Die instituut maak reeds jare lank ʼn studie van die ANC se ideologie. Die party hou Panyaza Lesufi, die LUR van onderwys in Gauteng, dikwels as ʼn pionier, of ʼn soort goudstandaard, voor as dit by ʼn benadering in onderwys kom en ʼn mens kan die provinsie dikwels dophou om te sien wat die party met onderwys in die toekoms sal wil doen.”

Pretorius sê die streng skoleplasingsregime wat toenemend voorskrywend word en die magte van beheerliggame wat ingekort word, is maar net van die breë temas van die party wat Lesufi eggo.

“Dit gaan eintlik hier oor wie die besluitnemer is met vryheid wat ʼn basisvetrekpunt vir almal moet wees, maar hierdie vryhede is egter besig om te kwyn en ouers sal dit maklik in die skoolstelsel kan sien.”

Pretorius sê ouers moet hierdie mag uit die staat se hande terugeis.

“Raak betrokke by jou skool al beteken dit jy moet ʼn steurnis vir die skool en plaaslike onderwysdepartement word.

“Staan saam met burgerregte-organisasies wat aktief is in die onderwyssektor. Sluit aan by hulle en help hulle om sake wat die onderwys raak aan die groot klok te hang.”

Pretorius meen dit is ook belangrik dat Suid-Afrikaanse burgers nie moet val vir “propaganda” wat ʼn rooskleuriger prentjie oor die onderwysstelsel probeer skets nie terwyl daar ernstige gebreke en mislukkings in die stelsel is nie.

“Ons kan die leerders gelukwens wat wel presteer het, maar kom ons hou die politici verantwoordbaar vir die matrikulante se statistieke. Burgers kan nee sê en ons het al die vermoë om ʼn stelsel teen te staan wat nie vir almal werk nie,” sê Pretorius.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan Venter

Dit is reg dat Cyril Ramaphosa persoonlik by die energiekrisis betrokke raak, maar dit is hoog tyd dat hy by die departement van onderwys se fisako wat Lesufi geskep het betrokke raak. Daar is geen, maar geen verskil in uitkoms tussen die twee nie. Duidelik geval sy optrede sy minister.

Wanneer gaan iemand dit in Cyril se oor fluister?

JohanR

Maar ou Cyril is verlief of Lefusi. Toe Lefusi na geldsake geskuif is, het Cyril hom weer terug gebring na onderwys. Maak nie saak of Lefusi iewers ander geskuif word nie, daar sal iemand in onderwys aangestel word wat net soe nutteloos sal wees!

Johan Venter

Met die huidige onderwysstelse ken hulle teen daardie tyd, soos die polisie in dié video, dalk nog nie hul regs van links nie!
https://twitter.com/johnna799/status/1217133073780875267

Noodkreet

Hemelvader behoed en bewaar ons kinders van die onbegryplikheid van die mense in beheer van onderwys en opleiding; red U ons en gee U wysheid aan elkeen wat die pad kan STOP voor die groot AFGROND. Vermors nie tyd om op sr of die mens te vertrou.

Herr

Net ‘n regstelling. 2020 se graad1 leerlinge behoort 2031 in matriek te wees, nie 2032 soos die berig aandui nie