Wat is fout met die beloftes van die NGV?

medies behandeling dokter

Argieffoto (Foto; DarkoStojanovic, Pixabay)

Die regering se voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering sal private gesondheidsorg verwoes sonder om daarin te slaag om openbare gesondheidsdienste te verbeter.

Dit is deel van die gedetailleerde kritiek wat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) lewer op die voorgestelde NGV-stelsel in sy jongste verslag getiteld “Wat is verkeerd met die goue beloftes van die NGV?”.

Dr. Anthea Jeffery, die SAIRV se hoof van beleidsnavorsing en skrywer van dié verslag, sê terwyl Suid-Afrika se gebrekkige openbare gesondheidsdienste hervorming benodig, glo sy nie die hoofdoel van die NGV is om dié diens te verbeter nie, maar eerder om die private sektor uit gesondheidsorg in Suid-Afrika te bestuur.

“Die NGV sal help om ʼn einde te maak aan die mediese skemas wat hoofsaaklik private medisyne finansier en noodsaaklik is vir die private gesondheidsorg se oorlewing,” sê Jeffery.

Volgens die verslag kry sowat 30% of 17 miljoen mense toegang tot private gesondheidsorg deur mediese skemas, gesondheidsversekeringspolisse of uit-die-sak-betalings (ook bekend as “out of pocket”).

Die verslag wys ook verder dat Suid-Afrika se 82 mediese skemas noodsaaklik is vir 9,5 miljoen mense (op van 6,9 miljoen in 1997) wat hoofsaaklik op private gesondheidsorg staatmaak. Van hierdie mediese skemas se gebruikers is 48% swart, 11% bruin, 7% Indiër en die oorblywende 34% is wit mense.

“Ondanks hierdie verspreiding en skuif na private mediese sorg beplan die regering om ʼn einde aan byna alle mediese skemas te maak en dit hoofsaaklik weens sy ideologie wat vyandig staan teenoor die winsmotief in private gesondheidsorg.”

Jeffery glo die NGV is ʼn nuwe soort burokratiese stelsel wat belastingbetalers aan die begin R500 miljard uit die sak sal jaag en tot soveel as R1 triljoen kan beloop om uit te voer.

“Suid-Afrika bestee tans 4% van die bruto binnelandse produk (BBP) aan openbare gesondheidsorg wat meer is as wat talle ander ontluikende ekonomieë bestee.

“Tog, te midde van die beste pogings van toegewyde professionele persone in dié sektor, kry die land maar min waarde vir die aansienlike besteding. Swak bestuur, ondoeltreffendheid, volgehoue verkwisting en dikwels korrupte besteding teister die openbare gesondheidsorgsektor.

“Die gevolge hiervan is dat 85% van openbare klinieke en hospitale nie aan basiese standaarde voldoen nie en dit sluit die higiëne en die verskaffing van medisyne in.

“Gevalle van mediese nalatigheid het so toegeneem tot die punt waar eise vir vergoeding tot R56 miljard beloop. Dit is meer as ʼn kwart (27%) van die totale begroting van R201 miljard vir openbare gesondheidsorg in die finansiële jaar 2018-’19.”

Jeffery sê daar word met die NGV aangeneem dat meer hulpbronne die antwoord is om die siek openbare gesondheidsorg te genees. “Eintlik is dit swak vaardighede, kaderontplooiing en tekort aan aanspreeklikheid wat die kern van die bedryf se probleme is en oorkom moet word.

“Suid-Afrika het reeds ʼn tekort aan verpleegsters, dokters, spesialiste en ander gesondheidsverskaffers en die NGV bied geen geloofwaardige plan om hul aanbod te verhoog nie. Inteendeel, die poel van beskikbare gesondheidverskaffers en -geriewe sal waarskynlik krimp sodra die NGV in werking tree.”

dr-anthea-jeffery

Dr. Anthea Jeffery is die hoof van beleidsnavorsing aan die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge. (Argieffoto.)

Jeffery het in haar verslag talle voorstelle aangevoer vir ʼn suksesvolle gesondheidsorgstelsel wat aan alle Suid-Afrikaners beskikbaar sal wees.

“Universele gesondheidsdekking is reeds beskikbaar, meestal gratis, in die land se openbare klinieke en hospitale. Om hierdie dienste te verbeter moet verdienstegebaseerde aanstellings gemaak word. Daar moet ook streng aanspreeklikheid wees vir swak prestasie en doeltreffende optrede teen korrupsie en verkwistende besteding. ʼn Vennootskap tussen openbare en private gesondheidsorg sal ook help om die diens te verbeter.

“Die las op die openbare stelsel moet ook verminder word deur die toegang tot private gesondheidsorg te verhoog. Laekoste- mediese skemas en primêre gesondheidsversekeringspolisse moet toegelaat word.

“As lidmaatskap aan ʼn mediese skema of ʼn gesondheidsversekeringsdekking verpligtend is vir alle werknemers, met spesiale premies vir laer betaalde werkers wat ondersteun word deur werkgewerbydraes waarvoor daar belastingkrediete verdien word, kan die risiko versprei word.

“Mediese skemas en -versekeraars sal dan moet begin meeding om Suid-Afrikaners se klandisie wat innovering sal aanmoedig en help om die koste van dié dienste laag te hou.”

Jeffery sê ongelukkig is niks van hierdie oplossings in die NGV ingesluit nie en sy waarsku in haar verslag: Teen die tyd dat mense besef die NGV kan nie die beloftes nakom nie, sal almal afhanklik wees van ʼn verwoeste staatsmonopolie in gesondheidsorg.

  • Lees die SAIVR se volledige verslag hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Thinus Erasmus ·

En dit is die verhaal van SA: die wortel van feitlik al die probleme in die land is dat LUI, ONBEKWAME en SKELM mense in die belangrikste poste aangestel word, die werkers stel net in salarisse, vakansiedae en verhogings belang en daar is GEEN effektiewe VERVOLGING en STRAF hierdie oortreders nie.
Die enigste oplossing waarna gekyk word is om alle suksesvolle privaat instansies te teiken, aan te val, plunder of saboteer sodat dit na die vet gebuit is niks oorbly – of dat dit dieselfde vrot vlak van die openbare sektor bereik. So word almal en alles gelyk gestel sonder dat iemand hard hoef te werk – VIVA AFRICA!
Dit is hoekom die fokus nou op ook landbou grond is.

Danie ·

Die waarskuwing oor die gevolg van 1994 is al in die 1960’s gemaak. Ongelukkig was die +/-30% wat geluister het nie genoeg om dit te keer nie. Mense was ongelooflik naïef en het gemiddeld 300 jaar se ondervind vir die pot lensie sop van 4 jaar se ideologies akademiese kennis verruil. Tragies dat dit nou ‘n probleem word noudat almal die gevolge lei.

Marie Visser ·

Onbekwame, onopgeleide mense word in poste aangestel waarvoor hul geen kennis of opleiding het nie en dan kyk hulle of hul die geskiedenisboeke kan haal deur onsinnige, onuitvoerbare wetgewing te promulgeer. Hulle glo hul het die hef in die hand deur mense met nuwe wetgewing te manipueer. Dit gebeur wanneer dwase regeer.

Vra net ·

Wonder nou net hoeveel mense werk vir Mediese skemas, Privaat Hospitale en praktyke, Nog ‘n paar miljoen mense sonder werk.

Tikkel tokkel ·

Die fout is die ANC/REGERING kan niks ordentlik bestuur nie. ALLES wat onder staatsbestuur is is ‘n totale FLOP. Eskom, SAUK, POF, Denel, SAL, lisensieowerhede, munisipaliteite, PRASA. Hoeveel moet ek nog opnoem? Die STAATSHOSPITALE se toestande en gebrek aan ordentlike toerusting, dokters en verpleegpersoneel sowel as die higiene in hierdie hospitale is SKREIEND en ontoereikend .. nou HOEKOM sal dit beter gaan as daar aan MEER mense ‘n dienste aan meer mense gelewer moet word en groter druk op die Staatsisteem kom? Die privaatsektor vat baie druk van die regeringsektor weg SODAT daar aan die armes ‘n gratis diens gelewer word. Die armes sit nou en lippies lek vir PRIVATE sorg want dit mag mos nie net vir RYKES beskikbaar wees nie … Well well alles wat jy BETAAL is net beskikbaar vir diegene wat betaal, een ou ry ‘n Uno en die ander een ‘n Porsche, dit is hoe die lewe werk. Een ou se paaiement is R30 000 ‘n maand en die ander ou s’n R1500, so jy KRY WAARVOOR JY BETAAL!! Private gesondheidsorg is nie ‘n REG nie, en die armes KRY mos nou staatsorg so WAAROM is hulle so ontevrede? JA privaatfondse is BELAGLIK duur maar WAT het dit met die armes te doen .. hulle kry alles VERNIET bly klinieke en staatshospitale . ons BETAAL vir alles ..

ek voel.... ·

jy mis die punt mens, jy mis die punt. met ngv gaan ek en jy steeds betaal en die armes gaan die room skep. weer n bewys van die jaloesie en hebsug van die meerderheid.

Stuiwer ·

Gradeer die staatshospitale op sodat daar ‘n beter diens aan die “armes” gelewer kan word en los die priaat hospitale uit. Dit werk! Die regering moet altyd krap waar dit nie jeuk nie. Hulle gun nie die “ryker” mense om beter dienste te hê nie, al betaal hulle dubbel en dwars daarvoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.