Wat is ʼn Zuma-party se kans op sukses in KZN?

Jacob Zuma (Foto: Nic Bothma, Pool via AP)

Daar is ʼn knuppel in die politieke hoenderhok, veral in die ANC, oor die moontlikheid dat ʼn Zuma-gesinde splinterparty stemme van die ANC in KwaZulu-Natal kan wegrokkel, en die ANC sy volstrekte meerderheid in die provinsie kan kos.

Dat die ANC rede tot kommer in KwaZulu-Natal het, is vir seker. Veral vier punte staan uit:

* Die party se grootste stemwerwer in die provinsie, oudpres. Jacob Zuma, het sy magsposisie verloor en deurkruis nou die provinsie met ʼn boodskap dat sy eertydse kamerade hom in die steek gelaat het.

* Die ANC verloor steun in tussenverkiesings in KwaZulu-Natal in alle rigtings, veral aan die Inkatha Vryheidsparty, wat reeds in 2016 die getal IVP-beheerde munisipaliteite van twee tot 14 opgestoot het.

* Die provinsiale leierskap van die ANC in KwaZulu-Natal is deur die hof in sy amp gestuit omdat bevind is lede is onwettig verkies.

* Politieke geweld en moordgevalle neem toe in die provinsie, en dit lyk volgens alle beskikbare getuienis asof die oorsaak hiervan grootliks wedywering binne die provinsiale ANC en sy dampkring om poste, taxiroetes en ander bronne van geldelike gewin is, eerder as die wedywering tussen die ANC en ander politieke groepe.

Die tafel is dus gedek vir die ANC om terug te sak, maar dis te betwyfel of kiesers hulle in groot getalle by ʼn Zuma-party sal skaar. Hiervoor bestaan ʼn paar redes:

* Zuma se politieke son is aan die sak, nie aan die opkom nie. Hy is gister se held en sal nie meer die patronaatskap kan verskaf wat die geval was toe hy as vandag of môre se heerser beskou is nie.

* ʼn Zuma-party sal duidelik net bestaan as afdreigplan vir Zuma en sy naaste meelopers om aan strafregtelike vervolging te ontsnap. Daar is geen voordeel daarin vir die algemene kieser nie.

* Suid-Afrika se demokratiese geskiedenis sedert 1994 toon dat kiesers eerder vir partye met ʼn duidelik omskrewe beleid stem as vir persoonlikheidsgedrewe partye.

*Alle aanduidings is dat Zuma en sy napraters se geldbronne op is. Politiek kos geld, wat hulle blykbaar nie het nie.

So interessant as wat ʼn Zuma-party dus mag klink en die ANC in die provinsie ʼn neiging tot selfvernietiging openbaar, is daar dus verskeie redes om te glo dat ʼn Zuma-party nie hond haaraf sal maak in KwaZulu-Natal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Michael ·

Gaan voort Zuma ek sal jou sommer steun so sal jy die hele ANC sink .

Jerry ·

Stem saam dat die kanse groot is dat n Zuma party sal misluk. Zuma en sy lojaliste weet dat n Zuma party moontlik sal wees, maar nie suksesvol sal wees om Zuma en sy bondgenote uit die tronk te hou. Die Zuma plan is dus om in die ANC te bly waar hy beskerming en geheime befondsing ondersteuning geniet en om van binne die ANC die gematigde ANC te ondermyn totdat verdeeldheid tot sy voordeel kan strek deur toe te sien dat n Zuma lojalis vir CR opvolg. Die dag wat dit gebeur sal die gort behoorlik gaar wees met valse beskuldigings teen opponente en gevolg deur vervolgings links en regs, binne en buite die ANC. Sy gesprekke orals oor in Kwazulu is om sy eie faksie binne die ANC te versterk.

Rynhardt ·

Dit gaan oor die konfrontasie tussen twee groepe,Ramaphosa en sy ondersteuners???? teen Zuma en sy rebelle!???????Zuma voel hy is stief behandel.Die tafel is gedek!!

jaco ·

kan iemand met die ware feite na vore kom asseblief, want daar is ook berigte dat Zuma self gesê het hy “canvass” glad nie vir ‘n nuwe party in KZN nie.
So wat is korrekte nuus en wat is fopnuus?

marous ·

Darem snaaks dat diegene wat uitgeskop word as gevolg van blatante plundering van die belating tassie (waarvoor die minderheid moet bloed sweet) so graag weer in die parlement wil gaan sit. Miskien is dit omdat daar soveel maatjies daar tyd verwyl, wie se geraamtes nog veilig in die kassies stof vergader.

Sarel Strydom ·

Lankal vermoed hy is nog nie klaar nie en kyk bietjie wie ondersteun hom. Hy gaan nog ‘n comeback maak.

Natan ·

Politiek kos geld sê die berig. Geld raak op. Wie sit agter transito-rooftogte waar veel geld gebuit word. Umkonte we Sizwe kan hand bysit in die rooftogte, hulle is ook deel van die SAPS en weermag. Daarby word die geld se sekuriteit ooglopend swak beskerm deur bv. kleurstof in die houers of versteekte gps opspoorders. Eintlik word die geld vir hulle gegee.

Koos1 ·

Hoe eronies, dat ‘n suiwer koloniale gebruik so baie in Afrika gebruik word. As jy nie tevrede is met jou politieke party nie, stig jy jou eie! Malema, Lekota, Rampele en nou lyk dit na Zuma ook!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.