Wat jy moet weet oor Dineo

Satellietfoto.

Satellietfoto.

Die tropiese sikloon Dineo is afgegradeer na ’n tropiese depressie.

Elsa de Jager, bestuurder van klimaatinligting by die Suid-Afrikaanse weerdiens (SAWD), het aan Maroela Media verduidelik dat ’n tropiese sikloon (of tropiese storm) gewoonlik afgesny word van die bron waarvan sy energie afkomstig is (die warm see-oppervlak) wanneer dit oor ’n landoppervlak beweeg.

“Die storm sal dus verswak en die windspoed sal afneem,” het De Jager verduidelik.

Die verskillende stadia in die ontwikkeling van ’n tropiese sikloon kan soos volg uiteengesit word:

  • Tropiese depressie – maksimum gemiddelde windspoed van 61 km/h of minder.
  • Tropiese storm – maksimum gemiddelde windspoed van 62 tot 117 km/h.
  • Tropiese sikloon – maksimum gemiddelde windspoed van 118 km/h en hoër

Die maksimum gemiddelde windspoed is dus bepalend vir die klassifikasie ten opsigte van ʼn tropiese depressie, ʼn tropiese storm of ʼn tropiese sikloon.

“Dineo het gisteraand na Mosambiek se binneland beweeg en die gemiddelde windspoed het baie afgeneem. Teen 08:00 SAST vanoggend was die gemiddelde maksimum windspoed ongeveer 56 km/h en dit is dus afgegradeer na ʼn tropiese depressie,” het De Jager gesê.

De Jager waarsku dat swaar reën na verwagting vanaf Donderdagaand oor die Laeveld van Mpumalanga en Limpopo kan voorkom. “Dié reën kan tot Vrydag voortduur, die publiek moet dus bedag wees op die moontlikheid van oorstromings.”

Kevin Rae, hoofweervoorspeller by die SAWD, verduidelik dat daar tot 200 mm reën in die Krugerwildtuin en die hele oostelike deel van Limpopo kan voorkom tussen Donderdag en Vrydag.

“Teen Vrydagoggend behoort die oppervlak van Dineo te begin ontbind in die omgewing van Musina en die Beitbrug. Teen Saterdag sal die oorblyfsels van Dineo oorbeweeg na Botswana toe,” het Rae gesê.

Intussen het die Suid-Afrikaanse regering en die departement van samewerkende regering gesê dat hulle saamwerk om planne gereed te kry wat sal verseker dat daar vinnig en gekoördineerd gereageer sal kan word indien die situasie dit vereis om sodoende die impak op gemeenskappe te minimaliseer en hul veiligheid te verseker.

Die departement het gemeenskappe steeds gemaan om ekstra versigtig te wees, selfs al is daar planne gereed. “Dit is moontlik dat water- en kragtoevoer dalk tydelik onderbreek kan word.” Die departement het ʼn paar wenke aan die betrokke gemeenskappe gegee:

1) Kyk mooi na jou kinders en maak seker dat hulle geen brûe of paaie oorsteek wat moontlik oorvloei kan wees nie.

2) Moenie die krag van meesleurende waters onderskat nie.

3) Wees veral versigtig in die aand omdat sigbaarheid dan ingeperk word.

4) Net 15 cm water is genoeg om iemand se voete onder hom uit te slaan en 60 cm water is genoeg om ʼn motor te laat dryf.

5) Gee gehoor aan plaaslike owerhede indien hulle jou versoek om jou huis te ontruim.

Die SAWD sal die situasie deurentyd monitor en die publiek op die hoogte hou van enige verwikkelinge.

Brian Jefferies, ‘n Facebook-gebruiker het dié video’s gedeel toe Dineo oor Guinjatabaai naby Inhambane in Mosambiek beweeg het:

https://www.facebook.com/bpjefferies/videos/10154772527969473/

https://www.facebook.com/bpjefferies/videos/10154772772879473/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vaaldam ·

En hier by ons 20h00 langs die wal van die Vaaldam vonkel die sterre.

Christa ·

Brian, ons kan julle net in ons gebede opdra aan ons liewe Here en Hom vra om julle by te staan en te beskerm. Met Sy genade en bystand sal julle deur hierdie krisis kom!! Sterkte!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.