Wat ʼn sege, Maroela is nege!

Maroela Media het vandag, presies nege jaar gelede op 29 Julie 2011, sy digitale voordeur oopgegooi om die lekkerste Afrikaanse aanlyn kuierplek bekend te stel. Uit dié nederige begin het ons gegroei tot waar Maroela nou die grootste Afrikaanse gemeenskap vir Afrikaanssprekendes is.

In 2011 is vier mense voltyds aangestel om dié nuwe mediahuis op sy voete te laat staan. Ons grootste verwagtinge is oortref. Nege jaar later hou ons ongeveer 2,5 miljoen mense per maand op hoogte van alles wat in hul leefwêreld gebeur. In April vanjaar is byna 25 miljoen bladsye op Maroela Media gelees – die vierde meeste van alle Suid-Afrikaanse nuuswebwerwe in alle tale. Boonop lees Maroela Media se lesers meer bladsye per besoek aan die webwerf as op enige ander Suid-Afrikaanse nuuswebwerf.

Die lekkerste van alles? By Maroela is jy nie net ʼn leser nie. Jy is deel van ʼn gemeenskap van Afrikaanssprekendes waar jy jou kan tuismaak, jou skoene kan uitskop en kan saamkuier tot die koeie huis toe kom.

Klein begin

Foto geneem tydens Maroela Media se bekendstelling in Julie 2011 V.l.n.r. Steve Hofmeyr, Burgert Senekal, Johann Botha

Tydens Maroela Media se bekendstellingsgeleentheid in Gauteng in Julie 2011 is ʼn debat gehou oor protesmusiek in Afrikaans – ʼn onderwerp waarmee Maroela die tafel gedek het vir nog baie debatte en moeilike gesprekke wat later op die webwerf self sou volg. Die sanger Steve Hofmeyr, wat destyds opspraak verwek het met sy proteslied “Ons sal dit oorleef”, en die dramaturg Deon Opperman, wat veral bekend is vir sy merkwaardige musiekblyspele Ons was daar en Tree Aan! waarin verskeie bekende protesliedere gebruik is, het saam met Burgert Senekal en Salmon de Jager van die groep Klopjag aan die debat deelgeneem. Senekal is ʼn kenner op die gebied van oorlogsliteratuur en protesmusiek. Klopjag het sy merk in Afrikaanse protesmusiekkringe gemaak met veral die lied “Nie langer” wat kritiek uitspreek teen die verdrukking van wit Suid-Afrikaners. Die ontslape televisie- en radio-aanbieder Johann Botha het die debat gelei.

Enkele dae later is Maroela ook in Kaapstad by die Groot Constantia-wynlandgoed bekendgestel. Afrikaanssprekendes van afgeleë hoeke reg oor die land en Namibië het op 18 Augustus 2011 om een lang tafel gesit en hul stories in én oor die “soetste taal” vertel. Sprekers van onder meer Karoo-Afrikaans, Rehoboth-Afrikaans, Kaapse Afrikaans, Namakwalandse Afrikaans, Vrystaatafrikaans, Noordelike Afrikaans en Soweto-Afrikaans het aan die gesprek deelgeneem. Met dié gesprek het Maroela Media die grond voorberei vir ʼn platform waar daar een gemene deler sou wees: Afrikaans.

Ons bou ʼn gemeenskap

Maroela Media is veel meer as net ʼn nuus- en inligtingswebwerf. Ons bou ʼn gemeenskap waar ons lesers as ‘t ware help skep aan die inhoud, soos dit hoort by ʼn gemeenskapsplatform. Lesers neem aktief deel aan kommentaar op die webwerf en deel met vrymoedigheid hul nuuswenke en lesersbriewe met die Maroela-span. Trouens, op Facebook is tussen 2,5 miljoen en 3 miljoen lesers weekliks interaktief besig op ons Facebook-blad. Byna 80 000 gebruikers volg ons op Instagram en ons verskaf nuus op Twitter aan byna 50 000 gebruikers.

In Januarie 2020 nooi ons jou om jou intrek te kom neem in Maroela-fontein. In dié digitale dorpie klets ons van hanekraai soggens tot die genneryter laatnag sy laaste dampe uitblaas. Maroela-fontein is jou digitale tuiskomplek – dis deel van Maroela Media, waar jy as lojale leser kan kom nes skop en ʼn bietjie meer voordele kan geniet as lesers wat sommer net wil lees. En net soos ons nuus is dit gratis om in Maroela-fontein te kom bly – jy hoef nie wakker te lê oor eiendomsbelasting, waterverbruik of beurtkrag nie. Ons het tydens ʼn wêreldwye pandemie nie eers ʼn afsonderingsperiode nie. Kom word nou deel – dis wa’ jy hoort!

Nog ʼn paar grotes en eerstes

Maroela Media se lesers neem met entoesiasme deel aan kompetisies en ander veldtogte.

In 2012 was ons saam met ons lesers op soek na die Grootste Afrikaner van Alle Tye. Talle bekendes, ook in die fiktiewe wêreld, is genomineer. Die publiek het met groot entoesiasme deelgeneem en in totaal is meer as 16 000 stemme gewerf. Die genomineerdes is in verskeie rondtes teen mekaar opgeweeg en het uiteindelik in animasie-boksgevegte teen mekaar te staan gekom.

Paul Kruger is uiteindelik as die Grootste Afrikaner in die historiese kategorie aangewys. Steve Hofmeyr het met die louere wegstap as die Grootste Afrikaner in die eietydse kategorie, en Liewe Heksie is as die Grootste Afrikaner in die fiktiewe kategorie gekroon.

Die drie wenners in Maroela Media se veldtog, die Grootste Afrikaner van Alle Tye

Dié Grootste Afrikaner-veldtog het in September 2013 vir Maroela Media ʼn silwer Pendoring-reklametoekenning vir gemengde media beteken. Dié toekennings word gemaak vir die beste Afrikaanse en Suid-Afrikaanse reklameveldtogte van die voorafgaande jaar. Die advertensie-agentskap Etiket het die Grootste Afrikaner-veldtog ingeskryf in verskeie kategorieë, en die veldtog was ʼn finalis in vier van dié kategorieë.

In 2013 was ons saam op soek na die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye. Koos du Plessis se liedjie, “Kinders van die wind”, is ná ʼn nominasierondte en verskeie stemrondtes, waarin meer as 60 000 stemme uitgebring is, aangewys. ʼn Spesiale roos is as deel van dié veldtog deur Ludwig’s Roses as die “Kinders van die wind”-roos benoem. Intussen is ʼn CD met die gewildste liedjies uit dié veldtog ook vrygestel – Die Grootste Afrikaanse Liedjie-CD.

In Junie 2014 stel Maroela vir die eerste keer sy gratis nuus-app bekend, beskikbaar vir Android- en Apple-slimfone. Dié app hou lesers, net soos die webwerf, op hoogte van die jongste nuusgebeure en maak seker dat jy weet watter boeke om te lees, hoe om vanaand se kos gaar te maak en wie die rugby gaan wen. Op afdelings soos Vermaak, Leefstyl en Gedoriewaar kan jy selfs uitsien na daardie stories wat jou na jou asem gaan laat snak, jou tot trane gaan dryf of jou laat skaterlag van lekkerkry en plesier. Ons meningvormers gesels kopstukke in Nou pra’ jy.

In Maart 2016 stel Maroela Media ook vir die eerste keer gratis nuusflitse bekend. Lesers kan inskryf vir dié diens om elke weeksdag ʼn kort selfoonboodskap te ontvang met die hooftrekke van die dag en weervooruitsig vir die volgende dag.

Ons hart klop Afrikaans

briekaandraai-vervolgverhaal-2-01.jpgMaroela vervaardig jaarliks ʼn radiovervolgverhaal in samewerking met Bettie Kemp. Ons het al geluister na die spioenasie-avonture in Vendetta, die liefdesintriges in Boekeparadys en die interessante gemeenskap van Seweweekspoort. Ons het ook al selfs in Boggomsbaai en Groblerspruit gaan kuier. In 2020 skuif ons voor die draadloos in om Leon van Nierop se storie, Briekaandraai, te luister. Dié radiovervolgverhale word uitgesaai op ʼn netwerk gemeenskapsradiostasies reg oor die land met ʼn gesamentlike luisteraarstal van sowat 1 miljoen, en kan ook direk op Maroela Media geluister word. Skakel in op jou gunsteling-gemeenskapsradiostasie of luister elke weeksdag ʼn nuwe episode op Maroela Media.

Die pad vorentoe

Ons harte loop oor van passie vir ons land en ons taal. Met ʼn klein maar gedugte span neem ons groot treë vorentoe en bly ons in pas met ontwikkelings in digitale en sosiale media. Ons lesers kies Maroela Media as die bron van hul gebalanseerde en betroubare nuus, en nooi hul vriende om saam te kom kuier.

Daarom sê ons vandag ook aan jou baie geluk met ons verjaardag – jy maak van Maroela Media die lekkerste kuierplek op die internet!

Maar al sal jy ons maklik met die nuutste slimfoon op jou gunsteling sosialemediaplatform vind, bly ons jou kuierplek: die groot tafel in jou ouma se kombuis waar jy kan kom aansit vir ʼn koppie boeretroos en ʼn stuk melktert. Ons is die stoep op jou oom se plaas waar jy sit en stories luister terwyl oupa biltong kerf. Ons is die nuusleser met die vreemde pruik, die soustannie met die lekker bak beskuit, die skeidsregter en die oom op die pawiljoen wat nartjies gooi. Ons is jou taaljuffrou en die pêl wat saam stokkies draai. Ons is jou ouma se sagte skouer en jou oom se blinknuwe motor. By ons mag jy maar onbeskaamd Afrikaans wees. Skink vir jou ʼn koppie boeretroos, dan kuier jy lekker verder saam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

ElizeK ·

Hartlik geluk Maroela. Mag jul van krag tot krag groei!!
Dankie vir n wonderlike “app” waaraan ek ook kan deel wees. Viva Afrikaans Viva Maroela.

Adeline ·

Baie geluk aan almal by Maroela Media vir die sukses van harde werk die afgelope 9 jaar. Die aanlyn nuus is verseker eerste op my lys weens die feit dat die nuus sonder opgemaakte propaganda deur gegee word en feite gestel word. Dit is vir my ‘n groot genot om hier te kuier. Geniet selfs ook die kommentare. Dit is ‘n lekker kuier blad en maak deel van my afgesonderde lewe huidiglik om te weet wat aangaan om my. Voorspoed en seën word julle span toegebid vir die toekoms en mag julle hoër hoogtes bereik op alle gebiede so ook in julle persoonlike lewens. Weereens baie geluk met julle groot prestasie en verjaarsdag!!

Blikkies ·

Jislaaik, Die 9 jaar het so gevlieg, dit voel nog soos gister wat julle bekend gestel is. Baie Geluk aan julle almal se harde werk. Geniet die Mylpaal en ek sien uit na die volgende 9 Jaar. Gaan Groot.

Anoniem ·

Baie geluk!! Wat n voorreg om deel te wees en n lid te wees van Maroela familie!

Adam Adriaan ·

Baie geluk. Ons het darem een oor wat nie na die linkse liberale komuniste neig nie, soos omtrent alle media groeperinge in SA. Hou die Afrikaanse vlag hoog!!!!

JohanR ·

Geluk Maroela. Die beste nuus- en inligtingswebwerf in Suid Afrika, en miskien die wereld. EWN, News24 en IOL kom nie eers naby nie. Ek dink ook Maroela is amper nog die enigste nuus- en inligtingswebwerf waar die leser saam kan praat, en hy of sy se mening kan gee. Dink dit is belangrik.

Janneman ·

Om vrye tyd te hê is nie altyd moontlik nie. Maar maroela is die lekkerste vrye tyd verdryf wat ek het. Ek kan baie tyd spandeer aan berigte en kommentaar te lees. Baie dankie. Baie geluk en mag daar baie geseënde jare voorlê.

Mossel ·

Baie geluk Maroela media, bou op die goeie werk in ons taal ! Ching ching

Jacobus ·

Geluk en dank aan Maroela vir akkurate en feitelike joernalstiek. Ver weg van die “cancel” taktiek van HSM. Spesiale dank aan veral Herman vir sy goed nagevorste artikels. Kudos.

Dirk ·

Baie geluk Maroela Media en dankie vir 9 jaar se saamwees! Mag julle vir altyd nuus bring in Afrikaans!!

Frieda ·

Baie geluk!! Julle is fantasties ek is mal oor Maroelamedia!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.