‘Wat ruk so?’ vra SA’ners oor aardskuddings

Die raad vir geowetenskappe (CGS) het in die afgelope drie maande 83 aardskuddings – met ʼn sterkte wat wissel tussen 2,1 en 4,2 – in Suid-Afrika aangemeld. Foto: Argieffoto, Pixabay)

Gesprekke oor aardskuddings in Suid-Afrika het algemeen op sosiale media geword en Maroela Media het net die afgelope maand oor drie verskillende aardskuddings berig.

Die raad vir geowetenskappe (CGS) het in die afgelope drie maande 83 aardskuddings – met ʼn sterkte wat wissel tussen 2,1 en 4,2 – in Suid-Afrika aangemeld.

Maar al lyk dit dalk of aardskuddings aan’t toeneem is, sê seismoloë seismiese aktiwiteite is al jare lank ʼn alledaagse verskynsel in Suid-Afrika. Faktore soos sosiale media en gevorderde tegnologie wat aardskuddings beter naspoor, kan verklaar waarom dit voorkom of dié natuurverskynsel aan’t toeneem is.

Drie ligte aardskuddings van onderskeidelik 2,1, 2,6 en 3,6 het Woensdag die Welkom-omgewing getref, terwyl ʼn groot skudding van 4,2 aan die begin van die maand in die Springbok-omgewing Noord-Kapenaars laat regop sit het. Skuddings in die Mopani-distrik in Limpopo het inwoners ook verskeie kere die afgelope jaar uit die slaap gehou.

Volgens die CGS se seismologiese departement is daar geen bewyse dat die seismiese aktiwiteite in Suid-Afrika oor die jare toegeneem het nie.

“Mense raak net meer bewus van die aardskuddings danksy die internet en sosiale media. Die aardskuddings wat plaasvind, kry meer mediadekking as voorheen. Inwoners sal tydens of ná ʼn skudding op sosiale media spring en daaroor skryf,” sê Mahlatse Mononela, woordvoerder van die CGS.

“Omdat die seismiese aktiwiteite as’t ware meer nuusdekking geniet, is mense ook meer geneig om aardskuddings in hul omgewing aan te meld.”

Die gevorderde tegnologie wat beskikbaar is om aardbewings te meet, dra ook daartoe by dat seismoloë kleiner seismiese aktiwiteite makliker kan registreer.

Aardbewing vs aardskudding

Volgens Mononela meet die meeste skuddings wat Suid-Afrika tref selde meer as 3. Dít word eerder as ʼn “aardskudding” bestempel, en nie ʼn “aardbewing” nie.

Volgens Tony Long, ʼn geoloog van Tzaneen, word dit eers as ʼn aardbewing gemeet as die skudding meer as 4 meet.

“Dit is selde dat groot aardbewings die land tref,” sê Long.

Mononela sê ʼn skudding wat tussen 0 en 2 meet, kan selde deur mense gevoel word. ʼn Skudding wat ʼn sterkte van meer as 4 bereik, kan effense skade aan infrastruktuur aanrig – soos krake in mure. Groot skade aan infrastruktuur en geboue word gewoonlik aangerig tydens ʼn aardbewing wat meer as 6 meet.

Die aardbewing wat tot op hede die grootste skade in Suid-Afrika veroorsaak het, het Tulbagh in die Wes-Kaap in 1969 getref. Dié skudding het 6,3 gemeet. Talle geboue is tydens dié aardbewing vernietig en altesaam 12 mense is oorlede.

Oorsake van aardskuddings

Volgens Mononela vind daar natuurlike en geïnduseerde aardskuddings in Suid-Afrika plaas. Die meeste van die skuddings is geïnduseerd, wat beteken dit word deur menslike aktiwiteite soos mynbedrywighede veroorsaak.

Die meeste seismiese aktiwiteite vind in die Suidwes-Kaap, Limpopo, Noordwes, Mpumalanga en Noord-Kaap plaas.

Aardskuddings wat natuurlik plaasvind, kom selde in Suid-Afrika voor omdat die land binne die Afrika- tektoniese plaat geleë is en dus nie oor twee of meer plate strek nie.

Mononela sê daar is wel bewyse dat die Afrika- tektoniese plaat in die proses is om in twee tektoniese plate – genaamd die Somaliese plaat en Nubian-plaat – te skeur. Hierdie skeuring word die Oos-Afrikaanse skeurstelsel genoem en veroorsaak die meeste natuurlike aardbewings in Afrika.

Die skeur strek van Ethiopië deur Oos-Afrika, maar volgens Mononela kan dit nog eeue neem vir dié plaat om uitmekaar te skeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

annie ·

Mononela weet gelukkig wat ons moet doen as ‘n skudding bo 4 in SA sal plaasvind soos die een in Tulbach. Ek raai die naaste tafel bykom, onder in en jo-jo skreeu vir hulp. Verskaf asb Mononela se noodnommer vir verdere instruksies…

Jacobus ·

Moet liewer hoop van die provinsie wil afskeur en vinnig wegdryf. Brawe uitspraak mnr Mononela – tydgesproke.

Johan ·

Die media het verseker n groot bydrae, mense deel baie meer inligting, en baie meer selektief inlyn met wat in die hoofstroom aangaan. Die “massa paniek” oor alledaagse verskynsels gaan meer algemeen word.

Robert ·

Tekens van die tye, ten spyte van wat die “experts” beweer.

Grond ·

Ag asseblief, was daar nooit aardbewings in die verlede nie ? Daar is elke dag honderde aardbewings oor die wêrld vir etlike miljoene jare al. en dit sal vir etlike miljoene in die toekoms in ook nog die geval wees.

Harley Davidson ·

Sal dit nie ‘n goeie dag wees as die Wes en Noord Kaap wegskeur van die res van Afrika en ‘n onafhanklike vasteland vorm waar goeie mense voor kan begin nie?

Marianne ·

Wat beteken “aan’t” Waar in die HAT sal ek dit vind?

Janice du Plessis ·

Pharos Woordeboek:
Sinonieme en verwante woorde
aan’t doen
aan’t doen b.nw. (besig)

Dit is van Nederlands afkomstig ‘aan het doen’ wat ‘besig met iets’ beteken.

Belinda ·

Wat kry ons deesdae so baie skuddings? is dit omdat die grond onder ons al hol gegrou is van al die myne? Ons wat op die Oos-rand bly gaan nog baie moeilikheid optel met al die ERPM myne wat hul nou plat spuit. Hoe lank voor hulle nie meer die water uit gaan pomp dan gaan ons almal verdrink in modder want ek glo die aarde is maar lekker hol onder ons…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.