‘Wat van politici se haatspraak?’ vra VN-komitee

Verenigde Nasies (Foto: AP Photo/Mary Altaffer)

Die Suid-Afrikaanse regering moet verduidelik waarom rassistiese uitlatings deur politici en invloedryke openbare figure ʼn skynbare tekort aan ondersoek en vervolging geniet.

Dit was een van die bevindinge deur die Verenigde Nasies (VN) se komitee vir die uitskakeling van rassediskriminasie (Cerd) na afloop van sy 111de sitting wat verlede week in Genève, Switserland, ten einde geloop het.

In sy verslag neem die komitee kennis van stappe deur die regering gedoen om haatspraak en rassistiese uitlatings in die algemeen te bekamp, maar beklemtoon hy die kommerwekkende tekort aan optrede teen haatspraak van openbare figure en politici.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het die bevinding as ʼn groot deurbraak bestempel.

“Die vrae deur die komiteelede was duidelik op [EFF-leier] Julius Malema gemik. As jy die opmerkings in die verslag binne die konteks van die gesprekke van die komitee plaas, is Cerd ongelukkig omdat politici soos Malema nog nie vervolg en skuldig bevind is nie,” sê Hermann.

In sy eie voorlegging voor Cerd het Solidariteit daarop gewys dat horisontale rasseverhoudinge tussen gewone mense nog goed is, maar dat vertikale politieke verhouding dikwels toksies is.

“Dit is goed as die wêreld kennis neem van die toksiese rasretoriek van sekere politici.”

Ander bevindinge

In sy verslag benadruk die komitee ook die nuwe Haatspraakwet in Suid-Afrika.

“Hoewel Solidariteit dink die Haatspraakwet kan tot vergrype lei, is die paradoks dat een van die eerstes wat ingevolge die wetgewing vervolg kan word, iemand soos Julius Malema is.”

Daar is bloot kantlynopmerkings oor die regering se rasbeleid gemaak, sê Hermann.

“Die komitee vra wel dat die regering die impak van sy rasbeleid moet ondersoek, wat Solidariteit ondersteun.

“Indien die uitwerking daarvan deeglik ondersoek word, sal bevind word dat Suid-Afrika se rasbeleid juis lei tot groter werkloosheid van swart Suid-Afrikaners en die inploffing van staatsdienste.”

Solidariteit het ook in vraetyd voor die komitee gewys wat die gevolge van die regering se rasbeleid op skole is. “Altesame 85% van skole is wanfunksioneel wat ʼn reuse-impak het op ongelykheid en indiensneming. Die regering moet dit ook behoorlik ondersoek.”

Verder het Cerd die regering weer kasty omdat sy rassestatistieke nie die werklike stand van sake weergee nie.

Einddatum van rasbeleid

Terwyl Solidariteit die sitting van Cerd bygewoon het, het Solidariteit ook verskyn voor die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO), spesifiek oor Suid-Afrikaanse arbeidswetgewing.

“Die harde kwessies oor Suid-Afrika se rasbeleid in die werkplek en die einddatum daarvan is nou geskuif na die ander agent van die VN, die IAO.”

Hierdie einddatumbepaling was ʼn groot fokuspunt in Solidariteit se afgelope betoog voor Cerd en die IAO. Ná hul besoek is Solidariteit gevra om voor September 2024 ʼn verslag oor die kwessie by die IAO in te dien, wat in November volgende jaar aangehoor sal word.

“Die skikking wat vroeër vanjaar tussen Solidariteit en die regering onderteken is, is onder toesig van die IAO bereik ná Solidariteit se vorige klag. Een deel van die skikking is dat rasbeleid tydelik moet wees.”

Hierdie tydelike aard van regstellende aksiebeleid is een kwessie waarvoor die Suid-Afrikaanse regering binnekort voor die IAO antwoord moet gee.

“Hoewel ons al ongeduldig raak om ʼn antwoord te kry, is die IAO die beter forum vir rassediskriminasie in die werkplek. Internasionale prosesse vat lank, maar ons het stamina,” sê Hermann.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sandra ·

Daar gaan dadels van kom, hulle gaan oor die vingers getik word en ‘n klap op die rug kry, SA kan mos niks verkeerd doen nie

Althes ·

Dankie Solidariteit en dr Hermann vir julle harde werk en ontsettende toegewydheid om SA ñ beter plek vir almal te maak.
Dit is nie altyd maklik nie omdat die regerende party soms slinkse metodes gebruik, maar ons dien ñ Hemelse Vader wie groter is as enige party.
Julle is tops en ons is trots op julle.

George ·

En julle dink Malema gaan luister, die anc gaan luister vir n klomp europiërs?

Emmer ·

Tomeaar Dr Hermann – net die feit dat die IAO “stamina” benodig, beteken die regering sal op die ou einde die saak verloor.

J. J. ·

Dis bemoedigend, maar die regering van die dag werk vinnig om van minderhede ontslae te raak, so hierdie is goeie nuus en word verwelkom. Ons moet net aanhou bid en vertrou om deur die ding te kom. Regstellende aksie moet asb net ook aangespreek word.

Andre ·

…die mag agter onse Julius, het groot planne vir hom!
Julle gaan hom nie maklik stuit nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.